Feeds:
Comments

Die Berg hou sy asem in

Hierdie is die pragtige Afrikaanse vertaling van die Noorweegse gedig, “FJELLET HELD ANDEN”, deur die Noorweegse digter, Jon Fosse. Die vertaling is deur De Waal Venter gedoen. Ek het dit op sy blog “Poetry and poësie” raakgeloop. Dit is ‘n lieflike gedig,  swanger , vol verwagting en afwagting.

,

Drakensberg

Die berg hou sy asem in

daar was ‘n diep asemteug

en toe staan die berg daar

toe staan die berge daar

en so staan die berge daar

en buig neer

en neer

in hulleself

en hou hulle asem in

terwyl hemel en see

stoot en stu

hou die berg sy asem in

Uit Noorweegs vertaal deur De Waal Venter

Ons liefde het uitgeblom

tussen elfuur en kwart oor twee -

hier sit ek onder die dagbreek

half-nugter en verlee

 

op koel stoeptreetjies êrens

waar ek ‘n blink waterkraan sien

in die ure van die donker dors

tussen twaalfuur en smôrens om tien.

 

Om elfuur was jou liggaam

die honger en dors in my,

as jou skewe papier-kalot

ver deur die danssaal gly.

 

Om twaalfuur was jy ‘n ligte brug,

‘n hoë, gevaarlike gang

bo my klein verwildering

tussen pyn en sterwe gehang.

 

Om eenuur was jou hare

vir my vingers ‘n bose strik,

en jou lyf soos swart stil water

en jou asem soos ‘n snik.

 

En nou het die môre my

oor die rand van sy glas gemors

op die stoep by die kraan wat blink

in die uur van die donker dors.

 

Die Teekoppievoorkoms

"wie is die mooiste in die land?"

Daar was ‘n vrou. Haar naam? Sneeuwitjie -

so vaal soos ‘n verbleikte geitjie.

Har vel was bleek; haar neus was rooi

en sy was wragtig glad nie mooi.

Sy het probeer – ja, honderd keer

om met Max Factor te grimeer.

Maar, sjympies tog, sover ek weet,

wou niks ooit help vir haar gevreet.

Tog loer sy na die spieël se kant:

“Wie is die mooiste in die land?”

Toe breek die spieël in sewe stukkies

en gee die vroumens sewe snikkies.

En alles word toe dubbel goor,

die dag toe sy haar werk verloor . . . .

Nou was die lewe glad geen grap.

Sy moes in vullisdromme krap,

Met sewe trane oor haar wange,

bereik sy Tafelberg se hange.

Daar tussen slop en rommelry

was waar die Sewe Bergies bly.

Sewe Bergies, erg besope;

veertien oë, bloedbelope.

En skaars sou sy na hulle loer,

toe skree die spul:”DJOU PA SE POER!!”

o spieëltjie, spieëltjie aan die wand.

Sy was die mooiste in die land . . . . .

En hier sou sy – ja, glo vir my -

vir sewe jaar gelukkig bly.

 

Phillip de Vos

Gisteraand sit en kyk ek na die pragtige Afrikaans fliek “Ouma Se slim Kind” op my skootrekenaar en dan, onverwags, klink een van die mooiste Afrikaans liefdesliedere “Hemelse Vlug Vol Reënvoëls” op . . .. .

Luister na die lied “Hemelse Vlug vol Reënvoëls’

 

Rainbirds

Rainbirds Whirl

As die geeste jou wil wegdra
en jou binneste wil skeur
sal ek jou vergewe
en sorg dat niks met jou gebeur
As die storms om jou losbreek
en jou vlees begin te kwyn
sal ek die wêreld vir jou wegsteek
en saam met jou verdwyn  

In ‘n hemelse vlug vol reënvoëls
in ‘n hemelse vlug vol reënvoëls
dalk hoor jy wat hul sê
dalk hoor jy wat hul sê
hoor jy wat hul sê?

As die mense jou wil seermaak
en jou bors begin te pyn
dan sal ek hul vergewe
en sorg dat liggies om jou skyn

So onthou net al jou droompies
in jou silwer skildery
as die wêreld vir jou wegkruip
sal ek saam met jou verdwyn

In ‘n hemelse vlug vol reënvoëls
in ‘n hemelse vlug vol reënvoëls
dalk hoor jy wat hul sê
dalk hoor jy wat hul sê

As jy mooi luister…

 


die dans

As ek vir jou sing

sal jy met my dans,

kaalvoet

sonder bagasie?

net elegant jouself

in my lyf tuismaak

dan

sal ons saam skuil teen die reën

mekaar warm hou

met Kuns en Woorde

Kring

Lieflike liefde

Oneindig lief

en as die more breek en babelas is
met winde in die kies
het ek jou lieflik lief

as die middag herfsig uitgevat
bruin skoenlappers oor die wolke gooi
het ek jou liederlik lief

as die skemer skielik hartseer
en mistig om die wimpers raak
het ek jou singend lief

as die vroenag nederig
kuis langs my venster kniel
het ek jou egbrekig lief

as die ure later uitgerus
versigtig my drome een-een dief
wag ek afgetakeld op die more
het ek jou oneindig lief

Annette Snyman

êrens is jy

Hierdie gediggie deur Antjie Krog verskyn in haar bundel “Eerste Gedigte” wat in 1984 verskyn het.

Die gediggie kon net sowel deur myself geskryf gewees het. Elke woord is ek.

Ek weet nie wie jy is nie, wat jou naam is nie, waar jy woon nie en hoe jy lyk nie. Ek weet nie of jy iemand is wat ek ken nie en of ek jou nog nie ontmoet het nie. Ek weet nie watter taal jy praat nie, maar ek weet jy praat my sieltaal en my lyftaal en as jy my vind, sal ons nooit ophou praat nie, al praat ons nie.

Ek soek nie na jou nie. Jy sal my vind . . . . .

En as jy my gevind het, sal ek jou volslae liefhê.

êrens was jy . . .


ERENS IS JY

hier waar ek nou skrywe

weet ek dat jy êrens is

dat jy ook nou lê onder die oop venster

en uitkyk na die donsige maan op die werf

ek is al drie jaar lank op soek na jou

en waar jy ookal is

ek sal jou vind

en as ek voor jou staan

sal ek weet:  ek is vir jou gemaak

na jou liggaam is ek geskape

na jou maat gevorm

ek is gesny uit jou been

jou denke sal myne omhels

jou begin sal my begin wees

jou einde my einde

jy sal my bestyg soos ‘n gier

en in my maagdelikheid jou nes kom bou

want na jou liggaam is ek gemaak

na jou maat gevorm

en as ek die dag my hand in joune sit

sal ek my padkaarte bêre met die wete:


my reise op soek na jou is nou verby.