Feeds:
Kommentare

Archive for the ‘Afrikaanse gedigte’ Category

1921-TheMatchSeller

 

”This mutilated veteran is a pitiful character. The war has taken limbs and vision. His deformities are highly visible yet the only attention he draws is from a Daschund who pees on his stumps.”

Na ‘n skildery deur Otto Dix

By die pilaar, die ingang

na die donkerte, frons die kind.

Boodskapperbomme

het hom een aand wakker geskud, bye

wat hom in die oogbanke steek.

Hy het geroep na sy ma.

Hy het geroep na sy pa.

‘n Engel het by die voetenent gestaan.

Dit is koud, swart kouse om sy stokbeentjies.

In sy oë dreun vliegtuie

wat dwarsdeur die koue klankgrens breek

en bombardeer. Hy huil nie.

Sy een hand is op aandag.

Sy ander hand kom te voor-

skyn met ‘n vuurhoutjiedosie.

Skaduwees val sy jas

binne.

Johan van Wyk

Read Full Post »

Die Mynwerker

Image

Foto krediet: Steve Mc Curry

Ek werk vir pitte (sê die myner),
ek werk nie vir ‘n saak soos jy,
waar ’’geld nie alles in die lewe is’’
ek werk beslis net vir my pay.

Daai harde rif laasweek –
jy moes my sien boor het,
en daainemaait laai;
jy moes die skoot gehoor het . . .

En toe slaan ek aan ouwertaaim
iets oor die honders, ja;
hoekom sal ek staan en lieg?
jy kan my voorman vra.

Nee, pitte, sê ek jou;
los die plesier en die vroue . . . .
Ahem . . . e . . . . ‘skuus, ek hoes kwaai,
lyk my dis verkoue . . . . .

(Earl Martin)

Uit: Reënboogstemme, saamgestel deur G.W.Davids, C. J. Banda en andere

Read Full Post »

Man

O liefling, as ek luister na die wind
Wat snags so klaend en weemoedig suis
Deur die eikeboom se blare bo die huis,
Dan dink ek terug aan toe ek nog as kind
Gelukkig was, onskuldig, trougesind
Aan wie ek lief gehad het, sonder kruis
Of bitter hoon wat skielik op kan bruis
En skaars versagting in vergeet kan vind.

Dit was die tyd voor ek jou eers gesien het,
Voor ek kon weet dat liefde wreed kan wees
En ergste smart ‘n droef genot kan dra.
Eers na my hart se hartstog jou bedien het
Tot sterwens toe, bankrot aan hoop en gees,
Heb ek geleer hoekom die nagwind kla.

C. Louis Leipoldt (ca. 1880 – 1947)

Read Full Post »

Riette:

Hierdie is my eerste poging om te ”reblog”. Ek hoop dit werk, want ek wil hierdie deernisvolle en puik stukkie skryfwerk deur Lidia Theron graag met my medeliefhebbers van ons taal en boeke deel.
Geniet dit, soos ek dit geniet het!

Originally posted on voormyvensterverby:

Kan ‘n mens werklik ‘n skrywer ken as jy haar boeke gelees het? Kan jy werklik sê “O, ek ken haar, eintlik ken ek haar nogal goed.” Nee, jy kan nie, jy kan bloot ‘n sekere soort waarneming maak, maar of dit reg is? Nee, nie noodwendig nie. Ek was gelukkig om vir Annelie Botes effens, let wel effens beter te leer ken. Tog ken ek haar steeds nie goed genoeg om te weet of sy ‘dalk, ooit of nooit‘ ’n sekere uitlating sal maak nie. Kan mens Sondag na Sondag as jy ‘n joernalis se rubrieke lees, sê jy ken die joernalis of dat jy weet hoe hulle sal skryf? Nee, ek dink ook nie so nie.
Al is Annelie Botes vir jou ‘n rolmodel, al hang jy aan haar lippe en al lees jy elkeen van haar boeke, ken jy haar steeds nie. Al lees jy op ‘n…

View original 1 069 more words

Read Full Post »

Dwergies, kaboutertjies, feetjies en sprokiehuisies . . . . .

Ek sal nooit moeg word vir hierdie karaktertjies nie. Selfs hekse en trolle fassineer my. Een van my wense, as mens mag wens, is om mooi te kan teken en mooi storietjies te kan skryf. Storietjies en gediggies en rympies.

Hier is een van my allermooiste gunsteling gediggies

 

Dwergieman

In ‘n gat daar onder die sukkeldoring
Het ‘n dwergieman sy huis.
Die mure daarvan is goudgeel klei,
En die vloer van silwergruis.

En die lampe is klein vuurvliegies,
Wat skitter soos sonneskyn
As die groen van die skemeraand val
En die son se glans verdwyn.

Die stoele is bergkristalle,
Wat onder die liggies blink;
Die tafel ‘n groot wit paddastoel,
Met sy steel in die gruis gesink.

Die kussings is fynste wit kapok
Uit tinktinkie-nes gesteel;
En die deurgordyn is ‘n mierkatvel,
So sag soos sagte ferweel.

Hier lewe die dwergie die jare deur
Waar niemand hom ooit sal stoor;
En hy en sy vrou kom net maar uit
Om water te haal uit die voor.

C. Louis Leipoldt

Read Full Post »

20130605-191154.jpg

Kunstenares: Marita Simpson

Oor sy afsigtelike boggel,
en kromheid, het hul hom gekoggel,
en bitterder was hul venyn
as sy vergroeide ruggraatpyn.

Tussen die diere in ‘n hoek
het hy die eensaamheid gesoek:
“Met klere wat gedurig gaar is,
wat doen die vent met sy salaris?”

Hy’t maandeliks by die poskantoor
‘n brief gepos of een gelees
by die dierkratte, oor en oor:
“Sou daar tog erens iemand wees?”

En daardie ewige reuk van drank:
nie een sou huil as hy bedank,
maar waar hy in die sirkustent
aapagtig teen die firmament,
hoog teen die takelwerk, kon klouter,
die dood uittart, en klein kabouter,
sy duiwelstreke uithaal onder
dat almal skater vir die wonder,
is hy, hoeseer verag, verlate,
nog deur die baas beskou as bate.

Toe het ‘n brief gekom eendag . . .
Hy’t oor die bed gebuk, verblind,
terwyl ‘n boggelvroutjie, sag,
sterwend fluister:”Dankie my kind . . .”

S J Pretorius

Read Full Post »

Rondloper

Agterpad deur Namakwaland by Jac Kritzinger in Weg tydskrif

Foto krediet: Jac Kritzinger

Hy’s klein en skraal en baie moeg,
sy klere vaal en muf van stof,
want heel die warm dag het hy
die paaie, paaie langs geslof.

Sy skouers buie bietjie oor
van stap en stap in reën en wind,
sy hande is gebars en swart
maar klein en skraal soos van ‘n kind.

Nou stap hy na die waterput
waar donkies en die kalwers drink
en in die modderwatertjies
die eende kwetter en rinkink;

nog skaam’rig vir die agterplaas
sluip-sluip hy na die putjie heen,
maar voor hy skep, laat drink hy eers
die kalwers, tot die laaste een.

Rondloper noem die mense hom
en deugniet – tot sy pa en ma –,
sit soms die honde agter hom
as hy weer by die plaas kom pla.

Snags slaap hy sommer in ‘n sloot
of agter in ‘n ghoeniebos,
en as die veldkos skaarser word,
kom vra hy soms ‘n bietjie kos.

Die vrou loer oor die agterdeur,
die kinders kom so stil en kyk,
want hy’t die oë van ‘n kind
wat nou eers na die dinge kyk.

N P van Wyk Louw

Read Full Post »

« Newer Posts - Older Posts »