Klara Majola – D J Opperman

Wie was Klara Majola?

Dana Snyman het gaan uitvind  . . .

Luister gerus na ‘n voorlesing van Dana Snyman se verhaal  – kliek op  http://iono.fm/e/53289

Naby Prince Alfred Hamlet is daar ‘n plaas met die naam “Die Eike”. Op hierdie vrugteplaas het, in die winter van 1950, ‘n agtjarige dogtertjie verkluim toe sy na haar blinde pa gaan soek het. Sy, haar ouers, vyf susters en ‘n broer was arbeiders op die plaas en hulle van was nie Majola nie, maar Jansen. Klara se regte naam was ook nie Klara nie, maar Violet. So vertel Klara se bejaarde ouer suster Nan aan Dana. In die omgewing waar byname gedy, was Klara se pa bekend as Majola. Klara Majola was dus byname. Makliker om te onthou, omdat almal Afrikaans gepraat het.

Nan was tien jaar oud toe die tragedie gebeur het. Hulle pa het vantevore blind geword en hy en sy gesin het nog aangebly op die plaas. Hy het gehelp met los werkies en het graag hout gaan soek vir vuurmaak. Hy het die plaas baie goed geken. Die betrokke koue wintersdag het hy weer gaan hout soek en lank weg gebly. Klara het na hom gaan soek en hulle het mekaar mis geloop. Haar pa het later tuis gekom. Dit het begin reën en sneeu en dit het baie koud geword.

Die volgende môre het hulle haar naby ‘n spruit gekry. Sy was reeds verkluim.

Sy is in die kerkhof op die plaas begrawe. Op die sementsteen staan: Klara Majola. Gebore: 14.6.1942. Gesterf: 26.7.1950.”

Die ”Klara Majola” standbeeld is geskep deur Varenka Pascke

Klara Majola

Klara Majola

Klara Majola

Klara Majola wou haar vader
toe die skemer sak, gaan haal
waar hy, die blinde, hout vergader;
maar Klara Majola het verdwaal.

Klein Klara Majola lê verkluim
in die Bokkeveld se bros kapok,
haar arms en bene bruin
en kromgetrek soos wingerdstok.

Klara Majola, die koue geweld
sif stadiger oor my uit die ruim,
maar nooit sal ek in die Bokkeveld
so warm, Klara Majola, soos jy verkluim.

– D.J. Opperman

3 thoughts on “Klara Majola – D J Opperman

  1. Interessant, ek lees onlangs in Dana Snyman se boek ‘Op die toneel’ dat Klara Majola se naam eintlik Violet (of só het haar ma haar genoem) Jansen was, volgens haar suster, Nan Jansen, met wie Dana in agter-Witzenberg op die plaas, Die Eike, gaan gesels het. Majola was blykbaar sommer ‘n ‘byvan’. Sy het vyf susters en een broer gehad. Lees gerus Dana se storie oor sy soeke na Klara, oftewel Violet se spore.

  2. Baie interessant. Dankie Aretha. Ek het ook, eers ‘n maand of wat gelede, die feite raakgelees in ‘n uittreksel uit Dana Snyman se boek. Nogal in ‘n Afrikaanse skoolhandboek. En die gediggie bly gewild. So gewild dat dit nog steeds in die Afrikaanse handboeke opgeneem word. En ek? Ek is nog steed mal oor die gediggie!

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s