N P van Wyk Louw se treffende” Ballade van die Nagtelike Ure ”

Ons liefde het uitgeblom

tussen elfuur en kwart oor twee –

hier sit ek onder die dagbreek

half-nugter en verlee

 

op koel stoeptreetjies êrens

waar ek ‘n blink waterkraan sien

in die ure van die donker dors

tussen twaalfuur en smôrens om tien.

 

Om elfuur was jou liggaam

die honger en dors in my,

as jou skewe papier-kalot

ver deur die danssaal gly.

 

Om twaalfuur was jy ‘n ligte brug,

‘n hoë, gevaarlike gang

bo my klein verwildering

tussen pyn en sterwe gehang.

 

Om eenuur was jou hare

vir my vingers ‘n bose strik,

en jou lyf soos swart stil water

en jou asem soos ‘n snik.

 

En nou het die môre my

oor die rand van sy glas gemors

op die stoep by die kraan wat blink

in die uur van die donker dors.