Die Dwergieman

Dwergies, kaboutertjies, feetjies en sprokiehuisies . . . . .

Ek sal nooit moeg word vir hierdie karaktertjies nie. Selfs hekse en trolle fassineer my. Een van my wense, as mens mag wens, is om mooi te kan teken en mooi storietjies te kan skryf. Storietjies en gediggies en rympies.

Hier is een van my allermooiste gunsteling gediggies

 

Dwergieman

In ‘n gat daar onder die sukkeldoring
Het ‘n dwergieman sy huis.
Die mure daarvan is goudgeel klei,
En die vloer van silwergruis.

En die lampe is klein vuurvliegies,
Wat skitter soos sonneskyn
As die groen van die skemeraand val
En die son se glans verdwyn.

Die stoele is bergkristalle,
Wat onder die liggies blink;
Die tafel ‘n groot wit paddastoel,
Met sy steel in die gruis gesink.

Die kussings is fynste wit kapok
Uit tinktinkie-nes gesteel;
En die deurgordyn is ‘n mierkatvel,
So sag soos sagte ferweel.

Hier lewe die dwergie die jare deur
Waar niemand hom ooit sal stoor;
En hy en sy vrou kom net maar uit
Om water te haal uit die voor.

C. Louis Leipoldt

Pennies op die spoor

al die boompies langs die pad
die ken ek wel
al die goeters word daar van
my vertel
al die spookstories, dinge
en husse met lang ore
die perskeboom se takke hang al swaar
n kiewiet in die langgras wat raas
die winter was te lank

en die pennies op die spoor
het ek kleintyd verloor
maar die rykdom in my hart
snoesig toegemaak

die maan hou bakhand wag
oor die karoo
kleintyd stories wat ek glo
die padpredikant langs die pad wys
die huis is nie meer ver
klippe en rantjies afgeets
stil films flits verby
en jupiter is net n speldeprikgaatjie
in die hemel

en die pennies op die spoor
het ek kleintyd verloor
maar die rykdom in my hart
snoesig toegemaak

Stef Kruger
Die stasie by Vondeling