Olie op die waarheid

Clinton V Du Plessis, rekenmeester, skrywer en digter van Cradock, is nog een van my gunsteling digters en skrywers. 

Sy  kortverhaal, ”Olie op die waarheid” het in Januarie 2013 in Rapport verskyn. Ek plaas dit graag hier met vergunning aan die skrywer en Rapport.

“Olie op die waarheid” handel oor die twee kante van die waarheid.

Gereformeerde gemeente in die Bosveld

Foto krediet: Gustav Opperman

Die foto’s is geneem deur Gustav Opperman, erens in die Bosveld.  Ek het die foto’s al ‘n geruime tyd op my rekenaar se harde skyf, maar kon nog nooit ‘n verhaaltjie of gedig kry wat dit komplimenteer nie. Ek dink ek het dit nou gekry. Die foto’s is geensins ‘n verwysing na enige ras nie; so ook nie die verhaal nie. Dis net asof die twee by mekaar pas.

Die Waarheid is ’n tweegatjakkals en elke prediker ’n ekshibisionis.

Bring dié twee bymekaar en jy kry ’n striptease van formaat.

Die omie op ’n plattelandse dorpie het Sondae help preek by ’n kerk uit my kleintyd.

Arm mense, arm kerk, dus herderloos. Gevolglik het dié wat geroepe gevoel het om die Waarheid te help vind, soekend probeer – gewapen met net ’n lang stuk lewensondervinding, ’n korter akademiese agtergrond en ’n aks teologiese diepgang.

Tog, lê die sleutel tot die groot onbekende nie dikwels in die eenvoudige nie?

Altyd vreemd, altans vir my, hoe die storie met die “geroepentheid” werk.

Lyk asof dié wat die stem hoor, nie altyd op die korrekte golflengte is nie, en die swaksiende altyd daarop roem dat hulle die Lig beter sien.

Dié omie was een van hulle.

Op ’n gevorderde ouderdom kom hy tot bekering en móét hy dit deel. Ontboeseming is die vyfde evangelie, kyk maar hoe gaan dit deesdae op televisie.

In sy preke het hy vars met die Skrif omgegaan – dekonstruktief byna! Jona se reis op die boot was een wellustige, vleisvretende genieting; hy skets hom as ’n Ou-Testamentiese Camel man wat met bene gevou op ’n hangmat lê en sy opdrag ignoreer.

Destyds was dit verbode om in kerke te lag, ’n vrome grinnik agter die voorarm was hoe ver dit mog gaan…

Dié Sondag bely hy.

Hy’t ’n mank been, nie so gebore nie, die loon van ’n sonde langs die lewenspad. Ná sy aftrede was daar nie ’n pensioen nie. Het by die vulstasie uitgehelp. Soms ’n leë blik olie kwansuis as vol by ’n enjin ingegooi. Baie motoriste so verneuk, bely hy.

Káál-verleë wag hy.

Voor staan ’n koorsuster op en begin, met oorgawe en nootvas, die gemeente lei.

Amazing Grace.

Gemeente in die Bosveld

Clinton V. du Plessis

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s