Dit is vandag Vrydag. Dit is ook vandag die einde van die maand. Dit is ook vandag paydag. Vir baie is dit ‘n heerlike vooruitsig, ‘n dag en naweek om na uit te sien.
Dan is daar die duisende naamloses; die vroue en kinders wat hulle voete huis toe sleep op ‘n Vrydag en op ‘n paydag . . .
Foto: Flickr
Ek en Pietie het dit weer gehoor
laasnag by die huis naas die ou treinspoor
die gille wat breek in die donker
Houe wat val in die sinkdakhuis
‘n vrou wat bid met haar vingers gekruis
‘n gesleep
‘n geworstel
maar die man is sterk
en ons weet van die meisie met die dooie oë.
Dit gebeur reeds geruime tyd
maar ons ma’s het gesê julle bly daar uit
by so iets raak ‘n mens g’n betrokke
Tog is Pietie en ek
saans op ons plek en eendag as ons groot is
kan ons dalk iets daaraan doen
eendag as ons groot is raak haar oë miskien weer groen
eendag as ons groot is –
Ons hoor maar weer
elke naweek sonder keer
hoe sy gil en pleit hoe hy lag in sy jolyt
Ons kyk elke Maandag en haar oë is dood
en so teen Vrydag – ons weet dit is sy paydag
skop sy klippe op pad huis toe
Maar, laat dit staan
ons bly stil maar ons verstaan
en eendag as ons groot is sal ons praat en vertel
van die meisie met die groen oë in haar pa se hel
eendag as ons groot is – kyk, ons is maar net dertien
maar eendag as ons groot is sal almal dit sien.
Elsa Hoffman