Die Elwekoning

“One ought, every day at least, to hear a little song, read a good poem, see a fine picture, and, if it were possible, to speak a few reasonable words.”
― Johann Wolfgang von GoetheWilhelm Meister’s Apprenticeship

 

DIE ELWEKONING

Wie ry daar so laat deur nag en wind?
Dit is ‘n vader met sy kind;
Hy druk die knapie so styf in die arm,
Hy hou hom veilig, hy koester hom warm.

“My seuntjie berg bang sy gesiggie, vir wie?”
“Sien Vader die Elwekoning dan nie?
Die Elwekoning met mantel en sleep?”
“My kind, dit is ‘n newelstreep.”

“Kom, kindjielief, kom saam met my!
So heerlik speel hul waar ek bly;
Veelkleurige blomme groei op die strand,
Van goud gaan jou kleed wees uit moeder se hand.”-

“My Pappie, is Pappie dan heeltemal doof
Vir wat Elwekoning my saggies beloof?”
“Bly stil, wees rustig maar, my kind!
In dorre blare duisel die wind.”-

“Gaan jy, lief seuntjie, met my saam?
My dogters ken almal reeds jou naam;
My dogters dans voor die nagt’like rei
En wieg jou en dans en sing so bly.” –

“My Vader, kan Vader dan glad nie gewaar
Elwekonig se dogters in die donker kol daar?”
“My seuntjie, my seuntjie, ek sien dit heel goed:
Die ou-gras skyn geel aan die randjie se voet?”

“Jou skoonheid bemin ek, my siel is ontsteld;
En as jy nie wil nie, gebruik ek geweld!”
“My Pappie, my Pappie, nou vat hy my raak!
Elwekoning het my seer gemaak!”

Die vader skrik; hy ry soos die wind,
En hou in sy arms die kreunende kind,
Bereik sy plaas in bange nood;
Die kind lê in sy arms dood.

 

Johann Wolfgang von Goethe

(vertaal deur S J Du Toit)

Advertisements

Wanneer ‘n kind sterf

Johann de Lange skryf: ”Wanneer ‘n kind sterf kry die aarde seer . . .”

Clinton du Plessis skryf: ”Wanneer ‘n kind sterf struikel die son . . .”

Kinders moenie sterf nie . . .

Gerrith Gardener

Foto krediet: ”Son” (Oos -Kaap koerant) Die gestremde Gerrith Gardener (16)

 

Wanneer ‘n kind sterf
(ter nagedagtenis aan Gerrith Gardner)
(18/07/2015)

Jy bottel ons ‘n verbeelde wêreld
van sand, seep en sout,
soek nuuskierig en weetgierig
na ou koerante en Huisgenote
om deur te blaai en te lees
jy gesels geesdriftig saam, met ieder en elk
met ‘n glimlag;
môre,
hoe gaan dit?
hoe was jou dag?

Jy onthou details uit flieks van Schuster,
tot in die fynste besonderhede
kan jy vertel van 1 000 Ways to Die,
dinge wat jy nog wil maak,
jou hande alewig besig, vroetelend,
jy bottel ‘n verbeelde wêreld
van sand, seep en sout.

Wanneer ‘n kind sterf
struikel die son,
hou die see haar asem in,
buig die bome se takke nader na die aarde
in die wind wat waai soos hy wil,
wanneer ‘n kind sterf
raak elke voël vir ‘n wyle stil,
word daar ‘n nuwe litteken uitgekerf
in die holtes van die hart,
hys ons verslae ons vrae soos vlae net halfstok,
wanneer ‘n kind sterf
kom stol woorde knop in die keel,
tas hande dom na antwoorde,
krimp geloof, ongemaklik.

Seun,
jy bottel vir jou ‘n verbeelde wêreld
van sand, seep en sout
en jou lewe flits weer,
soos ‘n fliek, net té vinnig,
voor ons oë verby.

Clinton V Du Plessis