Rondloper

Agterpad deur Namakwaland by Jac Kritzinger in Weg tydskrif

Foto krediet: Jac Kritzinger

Hy’s klein en skraal en baie moeg,
sy klere vaal en muf van stof,
want heel die warm dag het hy
die paaie, paaie langs geslof.

Sy skouers buie bietjie oor
van stap en stap in reën en wind,
sy hande is gebars en swart
maar klein en skraal soos van ‘n kind.

Nou stap hy na die waterput
waar donkies en die kalwers drink
en in die modderwatertjies
die eende kwetter en rinkink;

nog skaam’rig vir die agterplaas
sluip-sluip hy na die putjie heen,
maar voor hy skep, laat drink hy eers
die kalwers, tot die laaste een.

Rondloper noem die mense hom
en deugniet – tot sy pa en ma –,
sit soms die honde agter hom
as hy weer by die plaas kom pla.

Snags slaap hy sommer in ‘n sloot
of agter in ‘n ghoeniebos,
en as die veldkos skaarser word,
kom vra hy soms ‘n bietjie kos.

Die vrou loer oor die agterdeur,
die kinders kom so stil en kyk,
want hy’t die oë van ‘n kind
wat nou eers na die dinge kyk.

N P van Wyk Louw

Nagreen

Nagreen

Die reën skuifel deur die straat,

verby my venster, mensverlaat …

Soos ’n trossie narsings wat verkwyn,

flikker die druppels teen my vensterruit

waar die geel straatlig daardeur skyn;

en voel die wind

met bleek vingers, soos ’n kind,

aan die swaar gordyn, wat plooi

in die lamplig, teer en droef papawerrooi.

N P van Wyk Louw