Wat maak jy hier?

En ja, ek vra myself ook dikwels, alte dikwels, dieselfde vraag:  Wat maak ek hier? Wat maak ek nou eintlik hier?

Ek haal TT Cloete aan:  Uit: http://www.literator.org.za/index.php/literator/article/viewFile/139/456

Die geheim van Leipoldt se enigmatiese klein gedig is dat die voël die digter se dringend
herhaalde vraag nie beantwoord nie, of nie kan beantwoord nie, en dat die antwoord wat ons
graag sou wou gehoor het, uitbly en nie daar staan nie:

Is dit bloot ’n voël waaroor dit hier gaan? Wáár is ‘hier’? Wat beteken ‘maak’? Gaan dit om ‘wat
soek jy hier,’ met die antwoord ingebou: ‘jy hoort nie hier nie,’ ‘waarom is jy hier?’, of ‘wat doen
jy hier?’
Leipoldt se sekretarisvoël is ’n eksotiese verskynsel. Die gedig bly so oop dat niks my verhinder
om die sekretarisvoël as die digter te sien nie (die penne agter die ore suggereer iets daarvan).
Die digter is vir die meeste mense ’n eksotiese verskynsel. Verse is eksoties. Niemand praat in
verse nie. Die gedig is ’n abnormale ding. Hoort die digter dan hier in die ‘normale’ wêreld?
Waarvandaan kom hy? Ons weet uit Leipoldt se gedigte dat mense vreemd opgekyk het na hom
as digter, as ’n vreemdeling soos die sekretarisvoël. Dus: Wie stel die vraag? Die nugter nurks of
die digter? Word die vraag deur iemand anders aan die digter gevra, of vra hy dit aan homself?”

 

Secretary Bird by Antoinette Kloppers at Dullstroom, Mpumalanga

Foto krediet: Antoinette Kloppers ”Secretary bird” Dullstroom, Mpumalanga

Sekretarisvoël met jou lange bene,
Met jou penne agter die ore styf,
Met jou stadige stappies, wat maak jy hier?

Sekretarisvoël met jou lange bene,
Met jou vaalgrys vere en lang, lang lyf,
Met jou groot, groot oë, wat maak jy hier?

C Louis Leipoldt

Advertisements

êrens is jy

Hierdie gediggie deur Antjie Krog verskyn in haar bundel “Eerste Gedigte” wat in 1984 verskyn het.

Die gediggie kon net sowel deur myself geskryf gewees het. Elke woord is ek.

Ek weet nie wie jy is nie, wat jou naam is nie, waar jy woon nie en hoe jy lyk nie. Ek weet nie of jy iemand is wat ek ken nie en of ek jou nog nie ontmoet het nie. Ek weet nie watter taal jy praat nie, maar ek weet jy praat my sieltaal en my lyftaal en as jy my vind, sal ons nooit ophou praat nie, al praat ons nie.

Ek soek nie na jou nie. Jy sal my vind . . . . .

En as jy my gevind het, sal ek jou volslae liefhê.

êrens was jy . . .


ERENS IS JY

hier waar ek nou skrywe

weet ek dat jy êrens is

dat jy ook nou lê onder die oop venster

en uitkyk na die donsige maan op die werf

ek is al drie jaar lank op soek na jou

en waar jy ookal is

ek sal jou vind

en as ek voor jou staan

sal ek weet:  ek is vir jou gemaak

na jou liggaam is ek geskape

na jou maat gevorm

ek is gesny uit jou been

jou denke sal myne omhels

jou begin sal my begin wees

jou einde my einde

jy sal my bestyg soos ‘n gier

en in my maagdelikheid jou nes kom bou

want na jou liggaam is ek gemaak

na jou maat gevorm

en as ek die dag my hand in joune sit

sal ek my padkaarte bêre met die wete:


my reise op soek na jou is nou verby.