Wat maak jy hier?

En ja, ek vra myself ook dikwels, alte dikwels, dieselfde vraag:  Wat maak ek hier? Wat maak ek nou eintlik hier?

Ek haal TT Cloete aan:  Uit: http://www.literator.org.za/index.php/literator/article/viewFile/139/456

Die geheim van Leipoldt se enigmatiese klein gedig is dat die voël die digter se dringend
herhaalde vraag nie beantwoord nie, of nie kan beantwoord nie, en dat die antwoord wat ons
graag sou wou gehoor het, uitbly en nie daar staan nie:

Is dit bloot ’n voël waaroor dit hier gaan? Wáár is ‘hier’? Wat beteken ‘maak’? Gaan dit om ‘wat
soek jy hier,’ met die antwoord ingebou: ‘jy hoort nie hier nie,’ ‘waarom is jy hier?’, of ‘wat doen
jy hier?’
Leipoldt se sekretarisvoël is ’n eksotiese verskynsel. Die gedig bly so oop dat niks my verhinder
om die sekretarisvoël as die digter te sien nie (die penne agter die ore suggereer iets daarvan).
Die digter is vir die meeste mense ’n eksotiese verskynsel. Verse is eksoties. Niemand praat in
verse nie. Die gedig is ’n abnormale ding. Hoort die digter dan hier in die ‘normale’ wêreld?
Waarvandaan kom hy? Ons weet uit Leipoldt se gedigte dat mense vreemd opgekyk het na hom
as digter, as ’n vreemdeling soos die sekretarisvoël. Dus: Wie stel die vraag? Die nugter nurks of
die digter? Word die vraag deur iemand anders aan die digter gevra, of vra hy dit aan homself?”

 

Secretary Bird by Antoinette Kloppers at Dullstroom, Mpumalanga

Foto krediet: Antoinette Kloppers ”Secretary bird” Dullstroom, Mpumalanga

Sekretarisvoël met jou lange bene,
Met jou penne agter die ore styf,
Met jou stadige stappies, wat maak jy hier?

Sekretarisvoël met jou lange bene,
Met jou vaalgrys vere en lang, lang lyf,
Met jou groot, groot oë, wat maak jy hier?

C Louis Leipoldt

Tydlose beskrywing van die liefde

Hierdie  treffende beskrywing van die liefde het ek in ‘n jeugroman  van Frieda de Villiers raakgeloop “Vissers moenie in die water mors nie”.

Hier verduidelik oom Sakkie, ‘n wyse ou man wat aan die buitewyke van ‘n vissersdorpie aan die Weskus van Suid-Afrika in sy kaiatjie woon, aan die verwarde, sestienjarige jong seun, Hendrik, wat verliefdheid is. Hendrik is verlief op die rykste man in die dorp se dogter . . . ..

Oom Sakkie gebruik die beeld van ‘n skoenlapper. . . .. . . . . .

Die foto het ek op facebook raakgeloop en het onmiddellik geweet, hierdie man is my “Oom Sakkie”.

Die karaktervolle portretstudie (Johan Louw, filosoof en distileerder van “Moonshine”) is geneem deur AnnelizeMouton , mede-redakteur van die pragtige tydskrif “Village Life Magazine”

Die Filosoof

Hy weet nie wat hy moet maak met sy gevoel vir Susanna nie. Hy wil daarvan ontslae raak, maar hoe doen hy dit? Dis soos sonlig wat hom brand, maar ook koester. Daarsonder sal sy lewe koud en leeg wees. Hy moet daarom maar die brand verduur tot hy daaraan gewoond raak of tot dit vanself weggaan.

Hy gaan kuier vir die ou man en kom met ‘n ompad. Hy kan tog nie pront-uit sê dat hy verlief is op die dogter van die Ackermans nie.

Die ou man se gesondheid het so verbeter dat hy weer buite sit wanneer die lug warm is. Hulle sit soos voorheen met die stilte tussen hulle en die gebruis van die branders anderkant die duin. Hy skraap sy moed op ‘n hoop.

Oom Sakkie, was Oom ooit verlief?”

Natuurlik! Ek sou mos nie ‘n mens gewees het nie . . . . .”

Wat nou gemaak? Die antwoord is soos ‘n punt agter ‘n sin. Voltooi. Klaar. Hy het gehoop die ou man sou darem iets meer gesê het. Iets wat hom kan help in die wildernes van verliefdheid waarin hy verdwaal is. Soos so dikwels in die verlede gebeur het, raai die ou man wat binne-in hom omgaan.

Die verliefdheid is wonderlik wanneer dit jou tref, Hendrik. Dis wat jy daarvan maak, wat tel.”

Hoe bedoel Oom?”

Sien jy daardie skoenlapper daar?” Hy beduie na ‘n skoenlapper wat op ‘n blommetjie sit en bewe.

Ja, Oom.”

Loop vang hom.”

Ek het mos nie ‘n kans nie, oom Sakkie.”

As jy regtig wil, kan jy.”

As ek ‘n net gehad het, ja, Oom.”

Presies. Jy kan hom vang. Die kwessie is net wat maak jy dan met hom?”

Ek kan hom in ‘n fles sit,” dink hy hardop.

En sorg vir hom, ne? Die oomblik dat jy hom vang, is daardie skoenlapper jou verantwoordelikheid. Dag in en dag uit is jy verantwoordelik vir sy geluk en sy lewe. Sien jy daarvoor kans?”

Ek dink ek sal liewer wil hê dat hy in die natuur bly, Oom.”

Net so. Op ‘n afstand is hy mooi. Bly hy mooi. Kyk na hom. Verlang na hom. Raak aan hom as jy kan. Raak liggies aan hom. So is dit met ‘n verliefdheid, Hendrik. En dan eendag, wanneer die tyd reg is, is daar miskien ‘n ander skoenlapper wat net so mooi is. Of dieselfde skoenlapper is nog daar. Dan kan jy haar vang en in jou huis bring en jy en jou mooi skoenlapper kan die soet sap van die liefde geniet.”