My mamma is bossies

In teenstelling met die vorige gedig se wraak en bitterheid, is hier ‘n titseltjie heimwee en verlange van ‘n volwasse dogter na haar ietwat ”mallerige” ma wat seker deur min mense verstaan is.

la sona molto felice

goose-girl-and-shepherd-dog-free-license-CC0-980x548

My mamma is bossies
uit haar een oog huil sy Puccini
uit die ander oog betig sy my
Snags kweel sy: Bedaar, my kind, bedaar
môore kry jy van soetpap en melk

My mamma is bossies
la sona molto felice, sing sy
en pak haar kaarte uit
Hoe mooi is sy nie
sy met haar hare soos pruimedante
my bossiema met haar taai drome
en onverwagte uitgelatenheid.

My mamma is bossies
Sy is dood nou
ingeweef in die familietapisserie
Sy jaag haar ganse strandlangs
met 'n dun swepie aan
Sy draai om, sien my
my agterstevoorkind, sê sy
mag dit goed gaan met jou

Jeanne Goosen


Medea

Man’s love is of man’s life a thing apart, ‘Tis woman’s whole existence

Lord Byron in Don Juan

medea

Image credit: Antiquity and Revenge on Screen

'n vrou het eenmaal lief
en as die man van haar liefde
wegdraai
skarrel die skepping opeens verskrik
krys wraakvoëls van 'n ysspits af
word die son 'n sweer wat etter
spin sy 'n gifkleed vir sy minnares
brok sy die seuns van haar bors
soos korse brood, slyp sy uit haar wond,
'n swaard blinker en skerper as glas

en keer hy terug, vind hy haar in 'n huis
wat sy nie meer bewoon nie
in 'n kamer sonder lig
kyk sy na hom met oë
wat nie aan haar behoort nie

nie kleisag nie. toegeklip.

Sarina DÖnges


Ek het’n huisie aan die rand

Huisie aan die Rand
Foto krediet: Semelo Construction & Projects

Ek het 'n huisie aan die Rand. Dis nag.
Ek het my huisie tweemanhoog ommuur;
'n draad gespan; 'n kopbeen sê: Bly weg!
Dit is 'n fort waar ek my saans verskans.

Daarbuite hoor ek mense hardloop, skote knal,
deure klap, rubberbande snerp op teer.
Dan stilte. Daarbuite hoor ek ruite val
(of is dit binne waar diefwering makeer?)

Ek het 'n huisie aan die Rand. Dis nag.
My huis, my paradys, bly lekker onversteur.
Kyk hoe blink die koppe aan my draad:
tot hier dring niemand, maar niemand deur.

Ek het 'n huisie aan die Rand. Dis nag.
Die alarm by die Trellidor hou knipoog wag.

Pirow Bekker