Seisoene

”Dance me to the end of time” Leonard Cohen
“A woman’s body is like a violin and all, and that it takes a terrific musician to play it right.” —Holden “Catcher in the Rye”

Seisoene

"Just take this longing from my tongue
All the useless things my hands have done."
Leonard Cohen.

Ek mis jou so:
tog onthou ek saans die kalm klamtes van jou oë.

Ek sou so graag wou hê
dat jy vrouwarmsag teen my lyf moes lê
sodat ek al die woorde self in jou oor kon sê.

Ek wens ek kon luister, hoe jy snags snoesig slaap:
jou oë toe, jou asem ’n sagte simfonie teen my bors.
ek wens ek kon jou kalbassies koester
en versigtig-bang soos ’n blinde man
elke ronding van jou lyf soos ’n viool streel en stryk
en vir ure in jou stil sagte oë bly kyk.

Ek wens ek kon weer met my lippe aan joune raak
en die warm wonder van ons samesyn smaak
ek wens ek kon jou net weer vashou
en jou styf in my bestaan toevou,
want elke oomblik dink ek nou aan jou.

Dus, dink aan my,
droom van my,
skryf my naam op die binnekant van jou hand
soos ’n verliefde skooldogter en
bloos vir my.

Want kyk, die herfs van ongedeelde onthou is nou verby
en die lang winters van ons alleenwees
is nou uiteindelik ’n sekersomer van saamwees.

Clinton V du Plessis

Nothing will come of this Clinton V du Plessis

De verkeerslig was van die begin af rooi vir ons.

Image: The Web


Die woorde struikel tussen ons,
ons oë huiwer, skeur traag van mekaar,
ons hande twyfel, verleë en dom.

’n Verkeerslig flits groen vir jou om te gaan,
dit is tye soos hierdie, dat ek al minder verstaan.

Eerste skooldag

“n Pragtige deernisvolle gediggies deur Clinton V du Plessis, opgedra aan al die haasbekkies wat more graad een toe gaan.

” Mag die letsels van die land nie aan jou vas kom sit nie . . .”

Die foto is my een kleinseun. Hy en sy haasbeknefie gaan more groot skool toe.

Eerste skooldag
Clinton V. du Plessis

Mag jy leer om:
te skryf
te teken,
te lees,
te speel
te lag en te huil.

Mag jy soms maar onbeholpe en skaam
oor jou eie voetjies se los veters struikel
en leer om weer op te staan.

Mag jy verwonderd wees
oor die sprokies wat die juffrou vertel,
oor feë en prinsesse, en kastele in woude,
oor druppels reën teen die klaskamervenster,
oor blomme wat bont kleure kry
soos die jaar verander.

Mag jy leer, miskien nie om almal
lief te hê
wat jou vlegsels trek nie,
maar mag jy leer om nooit te haat nie,
mag jy leer om om te gee
vir die seuntjie sonder brood
of die dogtertjie sonder sakdoek
wat sonder bril nie goed kan sien nie.
Mag jy nie die bagasie van jou ouers
in jou rugsakkie saam hoef te dra nie,
of hul halfgeleefde drome
uit hoef te leef nie;
mag die letsels van die land
nie aan jou vas kom sit nie,
mag jy net nog mense sien.

Mag jou hart so wyd en so oop bly
soos daardie haasbekkie,
jou gemoed so onbevange
soos net ’n kind s’n kan wees.

Lugspieëling

Gedig deur Clinton V du Plessis

Foto gevind op die internet met geen verwysing na die outeur daarvan nie.
Die outeur kan dus ongelukkig nie gekrediteer word nie.


“Imagine,” pleit John Lennon
met oorgawe en bebril
maar toe sterwe óók hy,
soos alle dromers,
gewelddadig en bloedbevlek.

Desnieteenstaande bly ek pleit:
gee my ’n lappie aarde,
nie te ruim nie,
omring met boom
met min heining wat sal roes
maar met net genoeg water

ek wil soos ’n kindjie klein op die grond kniel
aartappel plant, boontjie leer rank
knoffel laat knol
’n sonneblom of twee
moet geel spiraal,
die oggend weldadig begroet,
die by toelaat om te bestuif

gee my aande op plekkies vol patos,
soos dié waaroor wyle NP van Wyk Louw
verse kon maak, dorpies in die Karoo:
skemertes soos koper
mense rein en opreg
sonder kankers en kommer

leer my om sonder begeerte te bid
om ver verby die ongelyke lewens te kyk
om die skurftes van die hart
en die sterftes in die oë van kinders te probeer begryp

ek wil glo in wolke vol water
in woude en oseane vol vis en dolfyn
ek wil droom, weer
“Imagine”
weer God met genade laat rym

Clinton V du Plessis

Wanneer ‘n kind sterf

Johann de Lange skryf: ”Wanneer ‘n kind sterf kry die aarde seer . . .”

Clinton du Plessis skryf: ”Wanneer ‘n kind sterf struikel die son . . .”

Kinders moenie sterf nie . . .

Gerrith Gardener

Foto krediet: ”Son” (Oos -Kaap koerant) Die gestremde Gerrith Gardener (16)

 

Wanneer ‘n kind sterf
(ter nagedagtenis aan Gerrith Gardner)
(18/07/2015)

Jy bottel ons ‘n verbeelde wêreld
van sand, seep en sout,
soek nuuskierig en weetgierig
na ou koerante en Huisgenote
om deur te blaai en te lees
jy gesels geesdriftig saam, met ieder en elk
met ‘n glimlag;
môre,
hoe gaan dit?
hoe was jou dag?

Jy onthou details uit flieks van Schuster,
tot in die fynste besonderhede
kan jy vertel van 1 000 Ways to Die,
dinge wat jy nog wil maak,
jou hande alewig besig, vroetelend,
jy bottel ‘n verbeelde wêreld
van sand, seep en sout.

Wanneer ‘n kind sterf
struikel die son,
hou die see haar asem in,
buig die bome se takke nader na die aarde
in die wind wat waai soos hy wil,
wanneer ‘n kind sterf
raak elke voël vir ‘n wyle stil,
word daar ‘n nuwe litteken uitgekerf
in die holtes van die hart,
hys ons verslae ons vrae soos vlae net halfstok,
wanneer ‘n kind sterf
kom stol woorde knop in die keel,
tas hande dom na antwoorde,
krimp geloof, ongemaklik.

Seun,
jy bottel vir jou ‘n verbeelde wêreld
van sand, seep en sout
en jou lewe flits weer,
soos ‘n fliek, net té vinnig,
voor ons oë verby.

Clinton V Du Plessis

Kykweer

Die digter trek nie skares nie

Die digter trek nie skares nie

 

”’Die gees van my land is ‘n voetbal”

(Lina Spies)

 

Die digter trek nie skares nie:

Opperman, Van Wyk Louw of Breytenbach,

die lostrio van die taal

vul nie aankomsale nie;

hulle trek nie ratse jong dye

uit eina-rompe nie.

 

Selfs met hul struktuur,

hul vorm,

die ritme van rymwoord,

of met die flink fop-aangee van betekenis,

of die agterlyn

van die sonnet

wat vaartbelyn

die naakte bluf van die kaal keiser, sonder skroom,

ontbloot,

kry hulle nog geen applous.

 

In die daaglikse kwatryn

van die voorstedelike bestaan

is almal banaal begaan

oor die gain en die pyn.

 

Selfs die babas in kappies,

met foppertjies

en koue kriewelhandjies

kweel en kwyl opgewonde in die kamera

oor die baie baard,

been en biceps,

die torso is die ode,

weet die bal van die metafisika?

 

Die digter sit op die reserwebank:

sonder bier in die hand,

sonder vlag op die bors,

hy besef, die massas het ‘n ander, dieper dors.

 

Hulle kyk liefs om die spieël,

vermy die raaisel.

 

 

© Clinton V. du Plessis, 2013