Sophia Kapp oor n moeilike dag, geld en vreugde

  • Uit: Sophia se Reisjoernaal Florence dag 5
  • “Vandag was ‘n moeilike dag. Maar ek gaan dit nou parkeer, want die enigste ding wat erger is as die geld wat weg is, is vreugde wat weg is. Daarom gaan ek die meeste maak van elke oomblik wat oorbly, . . .”

Sommige mense het die vermoë om iets so raak te vat met hulle woorde dat ek verstom staan.

Ek glo darem nie Sophia sal omgee as ek van haar skrywes hier aanhaal nie.

Het dit iets met die liefde te doen? Ja, alles het as grondslag, die liefde.

”Die jong leeus van Qaga” deur Dana Snyman

Hoe geniet ek tog nie Dana Snyman se vertellinge nie . . . .

‘n Verhaaltjie oor rugby in die Oos-Kaap.

Die foto’s behoort aan Dana Snyman en die verhaaltjie het ek op sy FB bladsy raakgeloop.

Geniet dit!

“One thing I can say,” sê hy net voor ek die kamera se knoppie druk. “Me, myself, I’m Victor Matfield.”

Rugby in die Oos-Kaap 1

Rugby in die Oos-Kaap 2

Rugby in die Oos-Kaap 3

Ry jy met die N2 van King William’s Town af in Pedde en Grahamstad se koers, kry jy ’n klomp gehuggies langs die pad: Rhayi, Shushu, KwaMasele, Mtyinweni. En omtrent elkeen het ’n rugbyveld.
By Qaga draai ek van die N2 af. Die padjie is vol klippe en slote. Die meeste huisies is armmoedig. Op die rugbyveld, ’n ongelyk affêring met skewe pale. wei ’n paar skape.
Maar nog voor ek die skape sien, sien ek die kinders. Daar is vier, vyf, ses van hulle, almal seuntjies, en hulle jaag mekaar op die veld rond, en stoei met mekaar, en tackle mekaar. Hulle speel rugby met iets wat lyk na ’n leë koeldrankbottel – ’n 5 Liter-plastiekbottel.
Ek hou naby hulle stil en klim uit. Nie een van hulle kan juis Afrikaans of Engels praat nie. Een het ’n paar nerf-af, swart skoolskoene aan, sonder veters. ’n Ander een dra China Shop-sloffies.
’n Man kom uit die huisies se rigting gestap. Siphiwe Sqadushe is sy naam. “I coach this boys,” sê hy in sy lendelam Engels. “Our team is Young Lions.”
Die ander gehuggies se spanne het ook sulke ambisieuse name: Star of Hope, Brave Warriors, Home Defenders…
Nee, verduidelik Siphiwe, daar is nie op die oomblik ’n rugbybal vir die kinders om mee te speel nie. Hul bal is by een van die ander Young Lions.
Hy praat in Xhosa met een van die seuns, dan vlieg die seun weg in ’n rigting, skynbaar om die bal te gaan haal.
Siphiwe het op sy dag losskakel gespeel vir Ready Blues, ’n ander span in die omgewing. Met behulp van die Grens-rugbyunie het hy ’n afrigtingskursus gedoen. Hier op Qaga is vier rugbyspanne en al vier speel in ’n plaaslike liga.
“The poles we got from a scrap yard in King William’s Town.” Hy wys na die lendelam rugbypale wat gevaarlik ver agteroor hang. “The pipes they first used for the irrigation.”
Die Young Lions het net een bal tussen hulle, maar hulle het darem twee duiksakke. “I show you. Come.”
Hy begin aanstap na sy huis naby die rugbyveld, met die seuns agterna, asook Siphiwe se hond, Jimmy, wat intussen bygekom het. Eenkant op die veld lê ’n skoen se binnesool. Sou dit in ’n rugbystewel gewees het wat iemand te veel gedruk het?
My oog vang die Young Lions voete: sloffies, voos tekkies, nerf-af swart skoene. Armmoede laat nie eens die voete onaangeraak nie.
Siphiwe gaan krap in ’n tradisionele rondawel, gebou van sementsteen en klei, langs sy huis en kom by die deur uit met twee sulke kussing-goed, van die soort wat die Springbok-spelers ook in oefeninge gebruik. Hy het dit by die Grens-rugbyunie gekry.
Hy gaan haal ook foto’s in die huis van die spanne waarvoor hy al gespeel en afgerig het.
Die Young Lions kom kyk ook na die foto’s. Siphiwe sit sy hand op een van die seuns se kop. “This one, she’s my Bryan Habana,” se hy. Die kind glimlag skaam. Hy beduie na ’n ander een. “That one she’s Lwazi Mvovo.”
Hy het ’n TV-stel en wanneer die Springbokke oor TV2 speel, sit die Young Lions en ’n klomp ander mense sy klein voorhuis vol. Hy glo die Bokke gaan die Wêreldbeker wen.
Die seun wat hy vroeër weggestuur het, kom weer aangehardloop, uitasem. Hulle praat in Xhosa, beduie, klap die tonge, bespiegel. Van die ander se stemme kom by. Dan skud Siphiwe sy kop: Jammer, Qaga se enigste rugbybal is tans soek.
Hy wil hê ek moet ’n foto neem van hom en die paar Young Lions wat hier is. Hy beduie hoe hulle op die rondawel se trappies moet sit, nes op ’n spanfoto.
Trots neem hy sy plek voor hulle in.
“One thing I can say,” sê hy net voor ek die kamera se knoppie druk. “Me, myself, I’m Victor Matfield.”