Die taal wat ek liefhet

Marius Titus het eens gesê-” Mens word die beste jouself in die taal wat jy liefhet – Afrikaans vir my”

Die volgende  gediggies druk dan ook my liefde vir my taal in woorde uit . . . .

Uit: Mure

Ons taal het in die grond geweek

oor baie dae, baie nagte,

soos in die winter reën – en toe

in vinkel, vetkousie, kiesieblaar,

koesnaatjie, kanniedood geblom.

W.E.G. Louw

Ons praat hom in die skuilte

in ons blyskap en ons smart

maar waar ‘n taal die wêreld vul

praat ons na ‘n ander hart.

Herman Engelbrecht

Gewis, ons is nie water genoeg nie!

Laat ons brak taal

riettaal word, en ruigte-en-reiertaal.

Laat die son hom wit

skrik in die hekelwerk van takke.

Uit die oksels van die die elshout spruit

varings om tussen die woorde te pak,

en by die groen kerse van die kiepersol

lees ons klinkers van ‘n nuwe menslikheid.

Wilma Stockenstrom

Klara Majola van agter Witzenberg – nuwerwetse weergawe

Ek het hierdie pragtige byderwetse weergawe van die bekende gediggie van D J Opperman op my rekenaar se harde skyf gebêre omdat dit vir my so treffend was ..  . maar ongelukkig het ek nie die digter se naam daarby gebêre nie . .. . ek gaan intussen soek totdat  ek  sy naam kry en dit dan by die gediggie sit.

Geniet dit . .dit is ‘n pragtige en deernisvolle weergawe . .. “jou blinde dadda se bruinoog kind . . .”

Klara Majola van agter Witzenberg

(nav DJ Opperman)

Klara Majola,

jou blinde dadda se bruinoog kind

lei jou dadda  al om Witzenberg se voetenent

deur die wingerde wat so oumenskrom

in lang rye, voetjie vir voetjie aankruie,

neurie jou babbel liedjie

terwyl jou dadda in die koue lug

wasem wolke blaas.

Klara Majola,

neem jou dadda met die melkoog

waar die droë stok-armpies

vollop soos opdrifsels lê

neurie jou brabbel liedjie

terwyl jou dadda in die koue rëen

dooiehout in bondels bind.

Klara Majola,

“die nag was besonders koud en die kapok

het dik gelê”

O, Klara Majola ,Klara Majola

die kouebokkeveld het jou opgeeis.

Klara Majola,

ek sit hier met probeerslae van ‘n gedig;

koue krampe geknoop

wit geweld en duim in die mond

O, Klara Majola, Klara Majola

dit is jy nou;

-wonderlike interteks materiaal.

-‘n bespreking van die gepastheid,al dan nie,

van die beeldspraak.

Klara Majola,

ons verkluim jou weer en weer;

ons mislei jou tot jy verdwaal, ons breek jou vlerkies af

ons steel jou kinderlaggie en grawe jou hartjie uit

ons plant wingerdstokkies in jou skouertjies

ons buig jou krom en styf

ons krul jou op in ‘n nat draggie hout

ons toonset jou naam

op die klippe in ‘n stroom

verlaat ons jou;

vers vir vers

Lewies Botha

Klara Majola – D J Opperman

Wie was Klara Majola?

Dana Snyman het gaan uitvind  . . .

Luister gerus na ‘n voorlesing van Dana Snyman se verhaal  – kliek op  http://iono.fm/e/53289

Naby Prince Alfred Hamlet is daar ‘n plaas met die naam “Die Eike”. Op hierdie vrugteplaas het, in die winter van 1950, ‘n agtjarige dogtertjie verkluim toe sy na haar blinde pa gaan soek het. Sy, haar ouers, vyf susters en ‘n broer was arbeiders op die plaas en hulle van was nie Majola nie, maar Jansen. Klara se regte naam was ook nie Klara nie, maar Violet. So vertel Klara se bejaarde ouer suster Nan aan Dana. In die omgewing waar byname gedy, was Klara se pa bekend as Majola. Klara Majola was dus byname. Makliker om te onthou, omdat almal Afrikaans gepraat het.

Nan was tien jaar oud toe die tragedie gebeur het. Hulle pa het vantevore blind geword en hy en sy gesin het nog aangebly op die plaas. Hy het gehelp met los werkies en het graag hout gaan soek vir vuurmaak. Hy het die plaas baie goed geken. Die betrokke koue wintersdag het hy weer gaan hout soek en lank weg gebly. Klara het na hom gaan soek en hulle het mekaar mis geloop. Haar pa het later tuis gekom. Dit het begin reën en sneeu en dit het baie koud geword.

Die volgende môre het hulle haar naby ‘n spruit gekry. Sy was reeds verkluim.

Sy is in die kerkhof op die plaas begrawe. Op die sementsteen staan: Klara Majola. Gebore: 14.6.1942. Gesterf: 26.7.1950.”

Die ”Klara Majola” standbeeld is geskep deur Varenka Pascke

Klara Majola

Klara Majola

Klara Majola

Klara Majola wou haar vader
toe die skemer sak, gaan haal
waar hy, die blinde, hout vergader;
maar Klara Majola het verdwaal.

Klein Klara Majola lê verkluim
in die Bokkeveld se bros kapok,
haar arms en bene bruin
en kromgetrek soos wingerdstok.

Klara Majola, die koue geweld
sif stadiger oor my uit die ruim,
maar nooit sal ek in die Bokkeveld
so warm, Klara Majola, soos jy verkluim.

– D.J. Opperman

Liefdes e-pos

Op die “wysie” van Breyten Breytenbach se “Rooiborsduif” ‘n liefdes e-pos geskryf deur Marius Swart

liefdes-e-pos

geliefde,
ek stuur vir jou
‘n rewritable DVD
daar’s ‘n paar nice songs op wat ek
op limewire afgelaai het
en ‘n show van Jeff Dunham ook
daai ou met die poppe, jy weet?
Achmed the dead terrorist en hulle?
fokkit, hy’s funny!
jy sal dit LOVE.
ek hoop jou DVD player lees die ding,
anders moet jy maar op die laptop kyk.
ek sit vir jou ‘n potjie fish paste ook by
ek weet dis moerse random,
maar ek weet ook jy hou daarvan
en ek is in elk geval mos nie nou daar om te keer
as jy my met ‘n visasem wil soen nie.
verder wil ek maar net sê
ek het vir jou ‘n gediggie probeer skryf
met woorde soos borsies en donsige perskes en hart

maar toe dink ek by myself:  fokkit, bra, haar pa gaan
jou mos nou totally dik bliksem
as hy dít ooit moet lees.
so toe los ek die perskes
jy weet tog, enige iets peach-erig maak my anyway
instantly naar
ná daai episode met die bottel Hooper’s perske-schnapps.
ag jirre, ek kon anyway nog nooit sentimenteel wees nie.
of minstens nie as ek nugter is nie.
elk geval.  die gedig was ‘n fokop, soos jy kan aflei.
ek sal môre weer ‘n slag foto’s
op facebook sit,
kyk maar daar.
o ja, die gedig, voor ek groet,
dit het so geëindig:
my wange mis jou hart wat klop
en my neus mis jou nek.
(c) Marius Swart