Sophia Kapp oor n moeilike dag, geld en vreugde

  • Uit: Sophia se Reisjoernaal Florence dag 5
  • “Vandag was ‘n moeilike dag. Maar ek gaan dit nou parkeer, want die enigste ding wat erger is as die geld wat weg is, is vreugde wat weg is. Daarom gaan ek die meeste maak van elke oomblik wat oorbly, . . .”

Sommige mense het die vermoë om iets so raak te vat met hulle woorde dat ek verstom staan.

Ek glo darem nie Sophia sal omgee as ek van haar skrywes hier aanhaal nie.

Het dit iets met die liefde te doen? Ja, alles het as grondslag, die liefde.

Reflekteer op ‘n Dullstroom wegbreek deur Eugene Kemp

Eugene Kemp het vanoggend hierdie essay op sy FB bladsy geplaas. Ek moet dit net deel met almal wat lief is vir die taal en wat goeie skryfwerk kan waardeer. ‘n Puik stukkie skryfwerk. Ek plaas ook sy foto hierby. Die foto is daar op Dullstroom deur sy seun Jacques geneem.

The real voyage of discovery consists not in seeking new landscapes but in having new eyes. MARCEL PROUST

Hier waar ek langs die waters van die foreldam ontspan, kom daar iets sag in my siel nesskrop. Die stille geruis van die wind deur die bloekombos, diep herinneringe, lank gebêre, by my op. Dae van onbesorg, onbeskadig en naïef, deur veld en bos loop, kleilat gooi in die vlei en op die naat van die rug die uitspansel bewonder.

En orals sneller herinneringe af en word die kloof tussen toe en nou, onsigbaar smal. Dae van onproduktief wees, nie besig wees, nie ‘n verskil maak en sommer net wees. Waar geen woorde nodig is, maar die skepping met tye oorverdowend sy prag en praal verkondig. Ander keer weer dit net saggies fluister. Waar jy lank genoeg van jou eie belangrikheid vergeet om net die besondersheid van alles om jou heen te kan opmerk.

Weg van die stadsgewoel word jou oog geleidelik weer sensitief vir dit waaroor dit regtig gaan. En begin ‘n ander sien, ‘n dieper sien, weer inskop en val daar skille af en verstaan jy weer van ‘n koop wat nie geld kos nie. ‘n Waarde wat nie in perfektheid of beperktheid lê nie, maar oorvloedig net deel en jy weet dit is genoeg.

En as dit donker word kom die hemel nader en gooi sy sterrekombers uit en voel mens jy kan daaraan raak en ‘n paar pluk vir kosbaar wegbêre vir latere bekyk. En as jy aanhou kyk suig dit jou hipnoties in en oorweldig die oneindigheid van dit alles jou weer opnuut. En ek en my seun Jacques hou ‘n sateliet skattejag en word meegesleur deur die gedagte van ‘n vlieg teen die satelietvenster wees. Sou ons dan ons ware kleinheid en uitwisbaarheid besef en ook hoe ons deel van ‘n groter geheel is. En dan verdwyn alle twyfel en is hierdie kleine verstand oorspoel met die wete dit is Goddelik en kan maar net afhanklik dankbaar wees dat Hy aan ons dink en ons weinig minder as goddelike wesens geskape het. As ek die werke van Sy hande beskou,verstaan ek moeilik hoe die kroon van die skepping dit so verkeerd kon kry en so onwaardig dit waaroor geheers moet word, opmors.

Ek sien die Swart Riethaan skaam en skugter tussen die riete verdwyn en verstaan iets van skoonheid wat nie sensasioneel op voorblaaie hoef te pronk nie. Van gemaklik wees met my plek en wees in die wêreld, sonder beindruk en geraas.

Die jong bleshoenders swem patrone op die water en ek verwonder my aan hoe die wind speels die patrone nog verder dimensie gee. En vee die wind sy verfkwas met verskillende hale oor die wateroppervlak en vertaan ek ook weer die nodigheid van paradoks en kontras. Van rippels en stille oppervlak en hoe die een die ander komplimenteer.

Dit is so asof my sintuie weer nuwe lewe kry en in ‘n volgende rat oorskakel. Die wind op my vel het ‘n streling en ‘n sagtheid wat helend aanraak. Dit voel of ek verslaaf aan die dun lug kan raak, wat met soveel gemak my longe inblaas. En my sien is ‘n wyer sien, ‘n dieper sien, ‘n anders sien. My hoor is ‘n hoor van ‘n simfonie van klank. En ek besef hoe die kunsmatige van die lewe alles uitdoof en verskraal tot ‘n geraamte bestaan, sonder hart en vlees en wees.
En ek dink by myself hoe ek daagliks visueel gebombardeer word en nie meer kan hoor nie. Dat die stem van my siel deur al die beelde en vals stemme uitgedoof word. En ek besluit ek gaan meer kies om eenkant te gaan en stil word en weet dat Hy God is en net na Een Stem luister: die Stem wat sê ek is Sy geliefde kind.

Here gee dat ek tog nooit verval in oorleef en net bestaan, om in die donker nag nie die sterreprag te mis nie en dit alles hier my net oorweldig laat, dat U by my kom woning maak
(Besondere foto deur Jacques by Dullstroom geneem)Dullstroom deur Jacques Kemp

Huise van glas

Daar is ‘n rede waarom ek na hierdie musiek en lirieke gaan soek het. Die rede het ook te doen met my sans-TV Sondag en my nuut-ontdekking van die radio en RSG in die besonder. Die rede het te doen met die kerkdiens waarna ek vanoggend op RSG geluister het. My rede het te doen met Jesus se woorde in Matt 7:1 – 6 waarin hy praat oor oordeel:

Oordeelkundige oordeel = die verskil tussen veroordeel en beoordeel. 

Wat het ek geleer?

Moenie met ‘n kritiese gees oordeel nie. Veroordeling boemerang met ‘n spoed. Moenie skynheilig oordeel nie. Hou op om splinterinspekteurs te wees. Wees  balkeverwyderaars.

Moet egter ook nie oordeelloos wees nie.

Gesonde oordeel is noodsaaklik. As jy verkeerd oordeel gaan jy verskeur word. Wat skadelik vir ons is, moet uitgeskakel word. Soms is dit nodig om ”die stof van jou voete af te skud”.

Daar is twee kante van oordeel.

[Theuns Jordaan het die woorde van hierdie liedjie geskryf. Ek hou egter meer van die sangweergawe van Herman Holtzhauzen. ]

Kyk die mense in die strate, dokters, staats-amptenare
Almal dra geheime in die mou
Soos papier poppe op kaarte, word ons leeg sonder harte
En daar’s niemand wat ‘n ander meer vertrou

Waarom sien ons die splint in ‘n ander een se oog
En staar ons altyd blind in die van ons
Selfs die Son wat daar skyn, gee aan almal deel van hom
O moet nie oordeel nie, en wys nie ‘n vinger nie,
Ons almal woon in huise van glas

Kyk die nuus in die koerante, oordeel van alle kante.
Is daar dalk ‘n skuldgevoel wat skuil
En die mense praat en skinder, oor die dinge wat hul hinder
Maak nie saak wie huil nie, dis die styl.

Sê my waar is die broeder liefde, dalk gesteel deur die nag diewe
Al wat nou nog oorbly, is verwyte en kritiek

Waarom sien ons die splint in ‘n ander een se oog
En staar ons altyd blind in die van ons
Selfs die Son wat daar skyn, gee aan almal deel van hom
O moet nie oordeel nie, en wys nie ‘n vinger nie,
Ons almal woon in huise van glas
 Theuns Jordaan