Sneeuwitjie en die Sewe Bergies

 

Die Teekoppievoorkoms

"wie is die mooiste in die land?"

Daar was ‘n vrou. Haar naam? Sneeuwitjie –

so vaal soos ‘n verbleikte geitjie.

Har vel was bleek; haar neus was rooi

en sy was wragtig glad nie mooi.

Sy het probeer – ja, honderd keer

om met Max Factor te grimeer.

Maar, sjympies tog, sover ek weet,

wou niks ooit help vir haar gevreet.

Tog loer sy na die spieël se kant:

“Wie is die mooiste in die land?”

Toe breek die spieël in sewe stukkies

en gee die vroumens sewe snikkies.

En alles word toe dubbel goor,

die dag toe sy haar werk verloor . . . .

Nou was die lewe glad geen grap.

Sy moes in vullisdromme krap,

Met sewe trane oor haar wange,

bereik sy Tafelberg se hange.

Daar tussen slop en rommelry

was waar die Sewe Bergies bly.

Sewe Bergies, erg besope;

veertien oë, bloedbelope.

En skaars sou sy na hulle loer,

toe skree die spul:”DJOU PA SE POER!!”

o spieëltjie, spieëltjie aan die wand.

Sy was die mooiste in die land . . . . .

En hier sou sy – ja, glo vir my –

vir sewe jaar gelukkig bly.

 

Phillip de Vos

“Hemelse Vlug Vol Reënvoëls”

Gisteraand sit en kyk ek na die pragtige Afrikaans fliek “Ouma Se slim Kind” op my skootrekenaar en dan, onverwags, klink een van die mooiste Afrikaans liefdesliedere “Hemelse Vlug Vol Reënvoëls” op . . .. .

Luister na die lied “Hemelse Vlug vol Reënvoëls’

 

Rainbirds

Rainbirds Whirl

As die geeste jou wil wegdra
en jou binneste wil skeur
sal ek jou vergewe
en sorg dat niks met jou gebeur
As die storms om jou losbreek
en jou vlees begin te kwyn
sal ek die wêreld vir jou wegsteek
en saam met jou verdwyn  

In ‘n hemelse vlug vol reënvoëls
in ‘n hemelse vlug vol reënvoëls
dalk hoor jy wat hul sê
dalk hoor jy wat hul sê
hoor jy wat hul sê?

As die mense jou wil seermaak
en jou bors begin te pyn
dan sal ek hul vergewe
en sorg dat liggies om jou skyn

So onthou net al jou droompies
in jou silwer skildery
as die wêreld vir jou wegkruip
sal ek saam met jou verdwyn

In ‘n hemelse vlug vol reënvoëls
in ‘n hemelse vlug vol reënvoëls
dalk hoor jy wat hul sê
dalk hoor jy wat hul sê

As jy mooi luister…