Kaneelverkoper

‘n Sagte, sensuele liefdesgdig

”Bedags vind jy my in die mark . . .”

Foto krediet: Pinterest

”langs die turkoois minaret . . .”

Foto krediet: Pinterest

‘en in die koelte van my tent hoor ek die aandgebed”

Foto krediet: Pinterest
Bedags vind jy my in die mark langs die turkoois minaret
en in die koelte van my tent hoor ek die aandgebed

Ja, ek dryf handel met kaneel
ek verkoop die spesery
wat vroue agter sluiers, selfs die sultan my beny

Maar saans maak ek die tentflap toe
en my lyf ruik na kaneel;
Jy kan dit aan my vingers proe
en dit alles word jou deel;
want as jy smorêns vroeg, my lief
in die donker teen my beur
word die goue poeier afgevryf
en kry jou lyf my geur;
In die nate van jou hande
lê die spesery se spoor
Jy ruik - soos ek - ook na kaneel;
hoe kan ek jou verloor?
Ek sal jou orals ken, my lief -
hoe kan ek jou verloor?

Ek gaan haal dit aan die oosterkim
van waar my bruin kameel
'n vrag van duisend geure dra
wat elk ruik soos kaneel

Die kleure van Arabië
die oop woestyn se geel -
vul al die mandjies in my tent -
en elk bevat kaneel

Maar saans maak ek die tentflap toe
en my lyf ruik na kaneel;
Jy kan dit aan my vingers proe
en dit alles word jou deel;
want as jy smorêns vroeg, my lief
in die donker teen my beur
word die goue poeier afgevryf
en kry jou lyf my geur;
In die nate van jou hande
lê die spesery se spoor
Jy ruik - soos ek - ook na kaneel;
hoe kan ek jou verloor?
Ek sal jou orals ken, my lief -
hoe kan ek jou verloor?

Coenie de Villiers
Album: Hartland (1993).

Florauna

Foto krediet: Gert du Plessis – Prins Albert-huisie
florauna                  

  ek wil vir jou 'n gewelhuisie bou
in die boland van my hart
met 'n peerboom in die tuin
en vaatjies wyn in die kombuis
en 'n tuinhekkie met krulle
en boekrakke met sartre.

ek wil vir jou 'n gewelhuisie bou
in my onderkaap van smart
met skepe in die hawe
en donssaad op die berg
en jy, in lewende lywe
op die stoep, in jou kombers
in die winterboland van my hart.

jy kom van 'n groot glaskasteel
met kandelare en wolkatte
en toffies toegedraai in bordjies
en poedels op plaveisel
jy's ongewoond aan kaapse weer
jou tekkies is geparfumeer

maar ek wil vir jou my lewe gee
in die witafdophuisie van my hart.

Andre LeToit (Koos Kombuis)

Seisoen in die paradys

Mag daar altyd 'n lig brind in julle huis
Mag die paddas julle onthou 
Mag die appels aljaar soeter word
En die druiweprieel groener. 
Mag julle vriende wyn saambring vir die kuier. 
Mag die huis wat julle betrek, deurtrek bly
Van die geur van sederhout en malvablare
Mag die walle van julle slote nie te gou inkalwe 
En instort nie
Sodat die water nog helderder daarin kan vloei 
Mag die sterre en die berg en die stilte
Oor julle en julle gesin bly waak
Nou en môre en môre se aand
En elke van daardie dae se nag.


       Breyten  Breytenbach
Foto krediet: Forest Edge cottage, Knysna