Seisoene

”Dance me to the end of time” Leonard Cohen
“A woman’s body is like a violin and all, and that it takes a terrific musician to play it right.” —Holden “Catcher in the Rye”

Seisoene

"Just take this longing from my tongue
All the useless things my hands have done."
Leonard Cohen.

Ek mis jou so:
tog onthou ek saans die kalm klamtes van jou oë.

Ek sou so graag wou hê
dat jy vrouwarmsag teen my lyf moes lê
sodat ek al die woorde self in jou oor kon sê.

Ek wens ek kon luister, hoe jy snags snoesig slaap:
jou oë toe, jou asem ’n sagte simfonie teen my bors.
ek wens ek kon jou kalbassies koester
en versigtig-bang soos ’n blinde man
elke ronding van jou lyf soos ’n viool streel en stryk
en vir ure in jou stil sagte oë bly kyk.

Ek wens ek kon weer met my lippe aan joune raak
en die warm wonder van ons samesyn smaak
ek wens ek kon jou net weer vashou
en jou styf in my bestaan toevou,
want elke oomblik dink ek nou aan jou.

Dus, dink aan my,
droom van my,
skryf my naam op die binnekant van jou hand
soos ’n verliefde skooldogter en
bloos vir my.

Want kyk, die herfs van ongedeelde onthou is nou verby
en die lang winters van ons alleenwees
is nou uiteindelik ’n sekersomer van saamwees.

Clinton V du Plessis

Dit moet ( ‘n fragment)

Adam Small se gedigte wissel baie ; soms  skerp satiries dan weer sagter; dikwels vol opstand en verbittering.

Hierdie fragment kan dus op verskillende maniere geinterpreteer word.

Ek verkies om dit as ‘n liefdesgediggie te sien. Dit is dan ook opgeneem in Fanie Olivier se bundel, ”Die mooiste Afrikaanse liefdesgedigte.

Hande , soos die dou . . .

Teerheid

Dit moet soos dou om ons dade lê,

en dit moet teerder wees as die dade wat ons sê –

Mens moet die teerheid van die liefde in jou hê!

Adam Small

êrens is jy

Hierdie gediggie deur Antjie Krog verskyn in haar bundel “Eerste Gedigte” wat in 1984 verskyn het.

Die gediggie kon net sowel deur myself geskryf gewees het. Elke woord is ek.

Ek weet nie wie jy is nie, wat jou naam is nie, waar jy woon nie en hoe jy lyk nie. Ek weet nie of jy iemand is wat ek ken nie en of ek jou nog nie ontmoet het nie. Ek weet nie watter taal jy praat nie, maar ek weet jy praat my sieltaal en my lyftaal en as jy my vind, sal ons nooit ophou praat nie, al praat ons nie.

Ek soek nie na jou nie. Jy sal my vind . . . . .

En as jy my gevind het, sal ek jou volslae liefhê.

ERENS IS JY

hier waar ek nou skrywe

weet ek dat jy êrens is

dat jy ook nou lê onder die oop venster

en uitkyk na die donsige maan op die werf

ek is al jare lank op soek na jou

en waar jy ookal is

ek sal jou vind

en as ek voor jou staan

sal ek weet:  ek is vir jou gemaak

na jou liggaam is ek geskape

na jou maat gevorm

ek is gesny uit jou been

jou denke sal myne omhels

jou begin sal my begin wees

jou einde my einde

jy sal my bestyg soos ‘n gier

en in my maagdelikheid jou nes kom bou

want na jou liggaam is ek gemaak

na jou maat gevorm

en as ek die dag my hand in joune sit

sal ek my padkaarte bêre met die wete:

my reise op soek na jou is nou verby.

Somer

‘n Pragtige, sensuele gedig deur Christine Barkhuizen le Roux

". .drink die somer uit hierdie kelk"

somer

laat jou hande

oopgaan oor my

die jong knoppe lê volgebloei

sag aan die vingers van die mond

en langsamer sal jy

uit hierdie kelk die somer drink

die voorspel

tot die najaar klink

laat my

aan jou hand glo

ook oop rose

is mooi