In my woestyn deur Thomas Deacon

‘n Moedersdaggedig geskryf deur Thomas Deacon – geen oordrewe sentimentaliteit nie . . .. Ek hou daarvan.

Foto krediet: Pinterest “The light is rising – Arizona” by Max Rive
In my woestyn was ma se liefde 
spatseltjies dou 
op 'n dorstige tong

in my woestyn was ma se liefde
vroegmôre manna
en 'n wolk van beskutting
bokant 'n skroeiende son

in my woestyn was ma se liefde
die soetproe van druiwe
agter vér verre duine
waar grootrivier krink

in my woestyn was ma se liefde  
spatseltjies dou
vroegmôre manna
die soetproe van druiwe
en 'n wolk van beskutting
toe die kersvlam verdof
en die pit begin kantel

Thomas Deacon

Lewer kommentaar