My mamma is bossies

In teenstelling met die vorige gedig se wraak en bitterheid, is hier ‘n titseltjie heimwee en verlange van ‘n volwasse dogter na haar ietwat ”mallerige” ma wat seker deur min mense verstaan is.

la sona molto felice

goose-girl-and-shepherd-dog-free-license-CC0-980x548

My mamma is bossies
uit haar een oog huil sy Puccini
uit die ander oog betig sy my
Snags kweel sy: Bedaar, my kind, bedaar
môore kry jy van soetpap en melk

My mamma is bossies
la sona molto felice, sing sy
en pak haar kaarte uit
Hoe mooi is sy nie
sy met haar hare soos pruimedante
my bossiema met haar taai drome
en onverwagte uitgelatenheid.

My mamma is bossies
Sy is dood nou
ingeweef in die familietapisserie
Sy jaag haar ganse strandlangs
met 'n dun swepie aan
Sy draai om, sien my
my agterstevoorkind, sê sy
mag dit goed gaan met jou

Jeanne Goosen


Oor ma’s en dogters (deel 3)

Uit: Broodsondes” deur Annelie Botes

 Het jy al probeer uitwerk waar kom haar swart nagte vandaan?

African mother and daughter

Dogter, dogter, weet jy dan nie dat dieselfde hoe-hoe-hoe-naguil wat op jou ma se daknok sit ook op joune sit nie? Het jy al probeer uitwerk waar kom haar swart nagte vandaan? Is sy so omdat sy so wil wees, of omdat sy die les misverstaan? Hoe dink jy, wat druk op haar borsbeen in die nagure as die pes in die donker sluip? Dalk is jy na haar toe gestuur om rigting te hou met die stormlamp, en jy het nooit besef jy is die omhooghouer van die lamp nie.

Moeder, moeder, jou dogter is gebore uit jou baarsak, maar sy behoort aan haarself. Sy sal haar eie lesse ontrafel. Julle lampe brand verskillend. As jy oorbesig is om haar lamppit namens haar op en af te draai, kan die haatheks oor die onderdeur klim en beide van julle se lampe uitdoof. Wees op die uitkyk, moeder. Hou die sleutel in jou voorskootsak, maar gee jou dogterkind ‘n duplikaat. Netnou hoor jy nie die haatheks by die tuinhek nie en plak sy haar ysterpot vol aalwynsop op jou stoof neer.

Dogters, moeders, moenie die reis rivier toe vrees nie. Dis ver, maar dis naby. Dis alsbitter; tog ook heuningste heuning. En dis ‘n reis wat jy nooit sal berou nie.

Oor ma’s en dogters (vervolg)

Uit: ”Broodsondes” deur Annelie Botes

‘n Ma kan haar dogterkind nie wegstoot nie. En ‘n dogterkind kan haar ma nie wegstoot nie.

Mother to daughters

‘n Ma kan haar dogterkind nie wegstoot nie. En ‘n dogterkind kan haar ma nie wegstoot nie. Omdat hulle mekaar toebedeel is vir die leer van baie, en nog baie meer lesse .Labirint waarin elkeen in sy blindheid tas na bakens. Vir elkeen loop die labirint anders; lees die wette anders; staan die wilg op ‘n ander wal, by ‘n ander rivier.

So is dit ook reg.

Juis hier, by die wil om reg te wees, het die nawelstring begin rek, totdat die skeur onafwendbaar was. Koppig. Eiewys. Onbuigsaam. Afdwingerig. Misbruik. Onrepek vir die grense van ‘n ander. Snoep wees met opskuif sodat iemand anders kan sitplek kry. Dis alte maklik om ons waarhede vir die buitewêreld te verberg, en dit uit te haal op die wat ons weet ons nie sal verloën nie. Daarbuite waar niemand ons iets skuld nie, sal ons honderd maal dink voor ons dooierus vat en  korrel.  Maar agter die rookglasvensters skiet ons uit die heup, min gepla oor wie se aorta ons afskiet.