Ek ken jou naam nie

ek ken jou naam nie
ek weet nie waar’s jy nie
ek weet net ek is my hele lewe lank
al op pad na jou toe
dat ek soms gedink het
die een wat voor my staan is jy
maar dit was nie
telkens stap jy sonder dat ek dit weet
aan die ander kant van die pad verby
dalk sal ek jou eendag vind
of dalk nie
actually soek ek nie meer na jou nie
maar soms net soms
droom ek nog hoe jou hand soos ń groen skoenlappertjie
teen my skouer kom troos
en wil ek net hê jy moet weet
dat sonder jou
my reënboog nog altyd
net een kleur gehad het

Lidi de Waal

Fotokrediet: Pinterest

dat sonder jou my reënboog nog altyd net een kleur gehad het

die see is pienk vanaand – deur Lidi de Waal

Hierdie lieflike gediggie het nie ‘n titel nie – altans ek dink nie so nie. Ek het die gediggie op haar, Lidi de Waal, se FB-blad raakgelees en daar was nie ‘n titel daarby nie.

Die foto is ‘n skildery wat ook deur Lidi de Waal geskilder is en wat sy saam met die gediggie geplaas het. Gaan besoek gerus haar webblad en aanlynwinkel by https://www.lididewaal.co.za/

Hierdie gediggie is dan vir jou, my lief . . .

die see is pienk vanaand my lief 
en die dag was blou
die wind het hom styf in sy kombers toegevou
en het stil agter die eerste duin gaan lê
die see is pienk vanaand my lief
en die aand is lou
en kyk my lief
die maan hang geel en silwer bo die see

Lidi de Waal


Skildery deur Lidi de Waal

Seisoene

”Dance me to the end of time” Leonard Cohen
“A woman’s body is like a violin and all, and that it takes a terrific musician to play it right.” —Holden “Catcher in the Rye”

Seisoene

"Just take this longing from my tongue
All the useless things my hands have done."
Leonard Cohen.

Ek mis jou so:
tog onthou ek saans die kalm klamtes van jou oë.

Ek sou so graag wou hê
dat jy vrouwarmsag teen my lyf moes lê
sodat ek al die woorde self in jou oor kon sê.

Ek wens ek kon luister, hoe jy snags snoesig slaap:
jou oë toe, jou asem ’n sagte simfonie teen my bors.
ek wens ek kon jou kalbassies koester
en versigtig-bang soos ’n blinde man
elke ronding van jou lyf soos ’n viool streel en stryk
en vir ure in jou stil sagte oë bly kyk.

Ek wens ek kon weer met my lippe aan joune raak
en die warm wonder van ons samesyn smaak
ek wens ek kon jou net weer vashou
en jou styf in my bestaan toevou,
want elke oomblik dink ek nou aan jou.

Dus, dink aan my,
droom van my,
skryf my naam op die binnekant van jou hand
soos ’n verliefde skooldogter en
bloos vir my.

Want kyk, die herfs van ongedeelde onthou is nou verby
en die lang winters van ons alleenwees
is nou uiteindelik ’n sekersomer van saamwees.

Clinton V du Plessis

Daar loop die maan deur Izak du Plessis

Daar loop die maan, die wandelaar
wat mantel swaai, die fiedelaar
wat deuntjies draai tussen sterre
en planete. Hy ken woorde
en woordinne, hy ken die taal

van elke watwou wiggelaar
wat witoog na die hemel staar
en uitroep sonder sinne:
Daar loop die maan!

Skryf neer jou woorde, rymelaar,
wat wydoog na die heelal staar,
swaai jou mantel na die sterre
en kyk, kyk daar tussen gode,
daar loop die maan.
© Izak du Plessis
Windpomp volmaan naby Loxton in die Karoo
Foto krediet: Bertus Hanekom 08 April 2020 in die FB-groep Coast and Karoo

Sophia Kapp oor n moeilike dag, geld en vreugde

  • Uit: Sophia se Reisjoernaal Florence dag 5
  • “Vandag was ‘n moeilike dag. Maar ek gaan dit nou parkeer, want die enigste ding wat erger is as die geld wat weg is, is vreugde wat weg is. Daarom gaan ek die meeste maak van elke oomblik wat oorbly, . . .”

Sommige mense het die vermoë om iets so raak te vat met hulle woorde dat ek verstom staan.

Ek glo darem nie Sophia sal omgee as ek van haar skrywes hier aanhaal nie.

Het dit iets met die liefde te doen? Ja, alles het as grondslag, die liefde.

God se gedig T T Cloete

Vanoggend, so in my haas om klaar te maak om betyds by die werk te wees, vang my oog ‘n insetsel op Kyknet – ‘n onderhoud, of gesprek, met die skrywer en digter,T T Cloete. Wat my eerste opgeval het, was hoe oud hy geword het en dat hy in ‘n rolsoel was.

Maar toe hoor ek sy woorde: ” Soms wil ek nie gaan slaap nie; dis te lekker om te lewe! Mens moet jou verwonder aan die lewe.”

Toe oor dinge wat hom bekommerd maak: ”Dinge buite my beheer soos die petrolprys wat opgaan; lewenskostes wat opgaan; mediese kostes wat opgaan.”

Op sy webwerf skryf hy dan ook die volgende wat pragtig by sy woorde van vanoggend aansluit:

Ek dink as jy net geluk en vreugde ken, net voldoening, net vervulling, sal jou bestek maar klein wees. Jy kort hierdie ding wat die Engelse noem: ‘ the equilibrium of opposites’. In my gedigte is daar jubeling, vreugde, maar nie net dit nie. Dit alleen . . . nee.”

Foto met vergunning aan Brenda Veldtman Photography. Gaan besoek gerus haar webblad en kyk na haar deernisvolle portretfotografie van Prof T T Cloete en ander.

God se gedig

Prof T T Cloete

Prof T T Cloete