Die Mynwerker

Image

Foto krediet: Steve Mc Curry

Ek werk vir pitte (sê die myner),
ek werk nie vir ‘n saak soos jy,
waar ’’geld nie alles in die lewe is’’
ek werk beslis net vir my pay.

Daai harde rif laasweek –
jy moes my sien boor het,
en daainemaait laai;
jy moes die skoot gehoor het . . .

En toe slaan ek aan ouwertaaim
iets oor die honders, ja;
hoekom sal ek staan en lieg?
jy kan my voorman vra.

Nee, pitte, sê ek jou;
los die plesier en die vroue . . . .
Ahem . . . e . . . . ‘skuus, ek hoes kwaai,
lyk my dis verkoue . . . . .

(Earl Martin)

Uit: Reënboogstemme, saamgestel deur G.W.Davids, C. J. Banda en andere

Ontnugtering

Man

O liefling, as ek luister na die wind
Wat snags so klaend en weemoedig suis
Deur die eikeboom se blare bo die huis,
Dan dink ek terug aan toe ek nog as kind
Gelukkig was, onskuldig, trougesind
Aan wie ek lief gehad het, sonder kruis
Of bitter hoon wat skielik op kan bruis
En skaars versagting in vergeet kan vind.

Dit was die tyd voor ek jou eers gesien het,
Voor ek kon weet dat liefde wreed kan wees
En ergste smart ‘n droef genot kan dra.
Eers na my hart se hartstog jou bedien het
Tot sterwens toe, bankrot aan hoop en gees,
Heb ek geleer hoekom die nagwind kla.

C. Louis Leipoldt (ca. 1880 – 1947)