Rondloper

Agterpad deur Namakwaland by Jac Kritzinger in Weg tydskrif

Foto krediet: Jac Kritzinger

Hy’s klein en skraal en baie moeg,
sy klere vaal en muf van stof,
want heel die warm dag het hy
die paaie, paaie langs geslof.

Sy skouers buie bietjie oor
van stap en stap in reën en wind,
sy hande is gebars en swart
maar klein en skraal soos van ‘n kind.

Nou stap hy na die waterput
waar donkies en die kalwers drink
en in die modderwatertjies
die eende kwetter en rinkink;

nog skaam’rig vir die agterplaas
sluip-sluip hy na die putjie heen,
maar voor hy skep, laat drink hy eers
die kalwers, tot die laaste een.

Rondloper noem die mense hom
en deugniet – tot sy pa en ma –,
sit soms die honde agter hom
as hy weer by die plaas kom pla.

Snags slaap hy sommer in ‘n sloot
of agter in ‘n ghoeniebos,
en as die veldkos skaarser word,
kom vra hy soms ‘n bietjie kos.

Die vrou loer oor die agterdeur,
die kinders kom so stil en kyk,
want hy’t die oë van ‘n kind
wat nou eers na die dinge kyk.

N P van Wyk Louw

Ek loop die pad

 

Ek loop die pad al lank, my lam
so kaalvoet deur die kou
van doeriekant se doringveld
en kyk hoe lyk ek nou

Ek loop die pad so sonder hoed
deur son en wind en grou
so kaalvoet op die slingerpad
en kyk hoe lyk ek nou

My lam, die gras is soms so groen
die son is soms so lou
maar ek loop hierdie pad alleen my lam
en kyk hoe lyk ek nou

Onthou jy nog hoe ons kon loop
so loslyf en verspot
so vlieg – vlieg oor die koppies heen
‘n Ragab en ‘n Lot

Maar nou loop ek alleen, my lam
so kaalvoet deur die kou
en soms, net soms, dan wonder ek
my lam, waar is jy nou
en soms, net soms, dan wonder ek
my lam, waar is jy nou?

Lirieke: Amanda Strydom
Musiek: Zane Cronje

Landskap – skildery en gedig deur Andries Bezuidenhout

 

20130525-185647.jpg

Geloof, hoop, liefde. Hierdie drie,
maar die grootste hiervan is dalk geloof,
onthou ek uit ʼn gesprek aan die einde van Op ʼn eiland.
Vir Rita met haar wrokkige man
in om te lewe is onnatuurlik bly ʼn laaste halm hoop.
Iewers in ʼn gedig van André Letoit
word oorskietliefde geloot.

Hoe kies mens dan jou roete, jou invalshoeke
deur gom en gare en die blaaie van boeke?

Toeval dalk? Ry vanuit Oudtshoorn, rigting Calitzdorp,
op soek na ʼn uitstalling van landskapskilderye,
hou by De Hoop se kerktoring stil –
in geloof gebou, maar nou ʼn handlose vinger
sonder dorp om na terug te wys,
klok wat koersloos onder loodlas lui.

Kom dan op ʼn sinkgehuggie af,
kerk teen die horison, mezuzahkruis langs die deur
en besef waaroor die keuse moontlik gaan:

Geloof, De Hoop en wasdag,
hierdie drie, maar die grootse hiervan is die wasdag.

Andries Bezuidenhout