Een

‘n Gediggie geskryf deur een van my oud-leerlinge, Elme Brand, toe sy maar net 10 jaar oud was. Vandag is sy ‘n jong dame van 20 jaar oud en besig met haar studies aan die Universiteit van Pretoria.

Sy was ‘n sterstudent; haar opstelle veral was vol diepte  . . .

Ons het ‘n besonderse konneksie gehad; miskien omdat ons albei intense introverte was – nog steeds is. Sy kon die dieper dinge raaksien in gedigte veral; ver bo die vlak van ‘n gemiddelde tiener

Haar gediggie is opgeneem in ‘n bundel ”Rhymes of time” A book of verse from young south-Africans aged up to 13 years

Foto: Pinterest

Young woman sitting alone

Een

Een is ‘n getal

dit maak my mal

Ek haat een

want ek voel alleen

Ek het een maat

sy gee goeie raad

Ten minste is een

beter as geen

Elme Brand (10)

Advertisements

Introvert

Hierdie pragtige gediggie het in die ATKV se ”Senior Afrikaans Eerste Addisionele Taal-Olimpiade 2015′‘ vraestel verskyn wat die kinders verlede Dinsdag geskryf het. Dit is geskryf deur Anja Visser. Onder haar naam verskyn die volgende: Poort, 2011.

Ek neem dus sommer aan dat sy ‘n tiener was toe sy dit geskryf het en dat dit heel waarskynlik in ‘n tydskrif met die naam ”Poort” in 2011 verskyn het. Dit is my aannames. Ek sal dit moet gaan google.

Die gediggie het my onmiddellik halsoorkop aangegryp. Dit kon net sowel ek gewees het wat dit geskryf het; dit was ”ek” toe ek ‘n tiener was. Ek onthou nou nog sy naam. Hy het in my graad 9-jaar een oggend in ons klas ingestap – die nuwe seun van iewers in die Vrystaat . . .

Die foto het ek op die internet opgespoor; ongelukkig met geen naam van die eienaar daarby nie.

Geniet dit . . .

[Ek sukkel egter met WordPress. Dit aanvaar nie strofes nie. Al maak ek spasies tussen die strofes of al tik ek die gedig in Word en ”copy en paste” dit in WordPress, word geen spasies aanvaar nie. Hierdie gediggie se strofe-indeling wys dus nie korrek in my pos nie.]

Introvert girl in window sill

elke dag

staar jy deur my

my lyf is van glas

die muur agter my jou fokuspunt

my stem

is koue wasem

teen die venster langs jou

my trane

is die reëndruppels

wat van jou lyf afrol

en vergete

op die grond neerplons

my aanraking

is die wind

wat op elke windstil dag

deur jou waai

ek is die

deurskynmeisie

agter in die klas