U Eie Keuse

My televisie is nie-werkend op die oomblik. Sedert verlede Sondag is ek dus al TV-loos. Gevolgtrekking: ek het NIKS gemis of verloor nie. Inteendeel, ek het meer gewen. Ek het weer die radio ontdek.

Selfs gister rugby geluister op RSG. Wat ‘n aangename ondervinding! Gisteraand weer na ”U eie keuse” geluister wat baie  soet herinneringe aan my kinderjare  laat opflikker het. Saterdagaande  –  die hele gesin om die radio: Pa lees koerant – die alewige koerant. Ma brei en gaan maak teen 9 uur tee of Milo. Ek lees my biblioteekboeke, soos gewoonlik. Wat my susters en broer gedoen het, kan ek nou nie onthou nie. My skoolmal, geniale oudste suster het seker geleer; my stoute boetie het seker met sy karretjies gespeel en my jongste suster seker met haar pop of iets. Maar almal was elke Saterdagaand saam om die FM radiotjie geskader.

Ongelukkig kon ek nie die regte weergawe van die kenwysie van ”U Eie Keuse’,  ”Ball Scene by the Gottingen Symphony Orchestra”’ op youtube opspoor nie, maar die weergawe wat ek hieronder bylas, is net so mooi. Dit begin heel vrolik en is nogal oulik.

Geniet die musiek!