Reflekteer op ‘n Dullstroom wegbreek deur Eugene Kemp

Eugene Kemp het vanoggend hierdie essay op sy FB bladsy geplaas. Ek moet dit net deel met almal wat lief is vir die taal en wat goeie skryfwerk kan waardeer. ‘n Puik stukkie skryfwerk. Ek plaas ook sy foto hierby. Die foto is daar op Dullstroom deur sy seun Jacques geneem.

The real voyage of discovery consists not in seeking new landscapes but in having new eyes. MARCEL PROUST

Hier waar ek langs die waters van die foreldam ontspan, kom daar iets sag in my siel nesskrop. Die stille geruis van die wind deur die bloekombos, diep herinneringe, lank gebêre, by my op. Dae van onbesorg, onbeskadig en naïef, deur veld en bos loop, kleilat gooi in die vlei en op die naat van die rug die uitspansel bewonder.

En orals sneller herinneringe af en word die kloof tussen toe en nou, onsigbaar smal. Dae van onproduktief wees, nie besig wees, nie ‘n verskil maak en sommer net wees. Waar geen woorde nodig is, maar die skepping met tye oorverdowend sy prag en praal verkondig. Ander keer weer dit net saggies fluister. Waar jy lank genoeg van jou eie belangrikheid vergeet om net die besondersheid van alles om jou heen te kan opmerk.

Weg van die stadsgewoel word jou oog geleidelik weer sensitief vir dit waaroor dit regtig gaan. En begin ‘n ander sien, ‘n dieper sien, weer inskop en val daar skille af en verstaan jy weer van ‘n koop wat nie geld kos nie. ‘n Waarde wat nie in perfektheid of beperktheid lê nie, maar oorvloedig net deel en jy weet dit is genoeg.

En as dit donker word kom die hemel nader en gooi sy sterrekombers uit en voel mens jy kan daaraan raak en ‘n paar pluk vir kosbaar wegbêre vir latere bekyk. En as jy aanhou kyk suig dit jou hipnoties in en oorweldig die oneindigheid van dit alles jou weer opnuut. En ek en my seun Jacques hou ‘n sateliet skattejag en word meegesleur deur die gedagte van ‘n vlieg teen die satelietvenster wees. Sou ons dan ons ware kleinheid en uitwisbaarheid besef en ook hoe ons deel van ‘n groter geheel is. En dan verdwyn alle twyfel en is hierdie kleine verstand oorspoel met die wete dit is Goddelik en kan maar net afhanklik dankbaar wees dat Hy aan ons dink en ons weinig minder as goddelike wesens geskape het. As ek die werke van Sy hande beskou,verstaan ek moeilik hoe die kroon van die skepping dit so verkeerd kon kry en so onwaardig dit waaroor geheers moet word, opmors.

Ek sien die Swart Riethaan skaam en skugter tussen die riete verdwyn en verstaan iets van skoonheid wat nie sensasioneel op voorblaaie hoef te pronk nie. Van gemaklik wees met my plek en wees in die wêreld, sonder beindruk en geraas.

Die jong bleshoenders swem patrone op die water en ek verwonder my aan hoe die wind speels die patrone nog verder dimensie gee. En vee die wind sy verfkwas met verskillende hale oor die wateroppervlak en vertaan ek ook weer die nodigheid van paradoks en kontras. Van rippels en stille oppervlak en hoe die een die ander komplimenteer.

Dit is so asof my sintuie weer nuwe lewe kry en in ‘n volgende rat oorskakel. Die wind op my vel het ‘n streling en ‘n sagtheid wat helend aanraak. Dit voel of ek verslaaf aan die dun lug kan raak, wat met soveel gemak my longe inblaas. En my sien is ‘n wyer sien, ‘n dieper sien, ‘n anders sien. My hoor is ‘n hoor van ‘n simfonie van klank. En ek besef hoe die kunsmatige van die lewe alles uitdoof en verskraal tot ‘n geraamte bestaan, sonder hart en vlees en wees.
En ek dink by myself hoe ek daagliks visueel gebombardeer word en nie meer kan hoor nie. Dat die stem van my siel deur al die beelde en vals stemme uitgedoof word. En ek besluit ek gaan meer kies om eenkant te gaan en stil word en weet dat Hy God is en net na Een Stem luister: die Stem wat sê ek is Sy geliefde kind.

Here gee dat ek tog nooit verval in oorleef en net bestaan, om in die donker nag nie die sterreprag te mis nie en dit alles hier my net oorweldig laat, dat U by my kom woning maak
(Besondere foto deur Jacques by Dullstroom geneem)Dullstroom deur Jacques Kemp

Introvert

Hierdie pragtige gediggie het in die ATKV se ”Senior Afrikaans Eerste Addisionele Taal-Olimpiade 2015′‘ vraestel verskyn wat die kinders verlede Dinsdag geskryf het. Dit is geskryf deur Anja Visser. Onder haar naam verskyn die volgende: Poort, 2011.

Ek neem dus sommer aan dat sy ‘n tiener was toe sy dit geskryf het en dat dit heel waarskynlik in ‘n tydskrif met die naam ”Poort” in 2011 verskyn het. Dit is my aannames. Ek sal dit moet gaan google.

Die gediggie het my onmiddellik halsoorkop aangegryp. Dit kon net sowel ek gewees het wat dit geskryf het; dit was ”ek” toe ek ‘n tiener was. Ek onthou nou nog sy naam.

Die foto het ek op die internet opgespoor; ongelukkig met geen naam van die eienaar daarby nie.

Geniet dit . . .

[Ek sukkel egter met WordPress. Dit aanvaar nie strofes nie. Al maak ek spasies tussen die strofes of al tik ek die gedig in Word en ”copy en paste” dit in WordPress, word geen spasies aanvaar nie. Hierdie gediggie se strofe-indeling wys dus nie korrek in my pos nie.]

Introvert girl in window sill

elke dag

staar jy deur my

my lyf is van glas

die muur agter my jou fokuspunt

my stem

is koue wasem

teen die venster langs jou

my trane

is die reëndruppels

wat van jou lyf afrol

en vergete

op die grond neerplons

my aanraking

is die wind

wat op elke windstil dag

deur jou waai

ek is die

deurskynmeisie

agter in die klas

”Bethlehem” ‘n gedig deur Rien Joubert

Vanoggend vroeg pop daar toe twee dinge op my rekenaar op so saam met my eerste koppie koffie: ‘n pragtige gedig wat ‘n vriendin aan my gestuur het, want sy het naam van die digter gesoek en ‘n treffende foto van ‘n doodstil nag in die Karoo met ‘n windpomp en die melkweg duidelik sigbaar in die helder hemelruim . . .

Hieronder is die huwelik tussen die twee.

Die gedig is geskryf deur Rien Joubert en die pragfoto behoort aan fotograaf Chrismari van der Westhuizen. Sy het dit geneem op hulle plaas so 60 km vanaf Loeriesfontein in die Noord-Kaap

Karoo windpomp en sterre nag deur Chrismari vd Westhuizen

As Bethlehem net nader was

dalk iewers in die land…

dan sou ons vir die Kindjie as geskenke vat

offers uit ons seerkryland, want,

nêrens anders ruik die reën so soet nie…

kom lê die herfs as roes nie…

En as die son ons oor die blou see groet,

dan breek die sonneblom sy goudpot oop

en laat my land sy goud as offer

tot by die Lam se voetjies loop.

Dan kniel ons hier in Afrika

soos herders lank terug

by doringvure wat die nag verlig.

En vir die Kindjie in die krip

word daar pasellas uitgehaal:

‘n heuningkoek, laventelbos,

‘n sonneblom, ‘n velkaros…

Die wyses onder ons

sou vir die Kind ‘n kaartjie los,

‘n dankie vir ons reënboogland,

vir roesrooi Kalahari-sand,

pers vygies teen ‘n duin se kant,

en God se Kerskind vlam wat brand

in elke hart in hierdie land.

– Rien Joubert