Sneeuwitjie en die Sewe Bergies

 

Die Teekoppievoorkoms

"wie is die mooiste in die land?"

Daar was ‘n vrou. Haar naam? Sneeuwitjie –

so vaal soos ‘n verbleikte geitjie.

Har vel was bleek; haar neus was rooi

en sy was wragtig glad nie mooi.

Sy het probeer – ja, honderd keer

om met Max Factor te grimeer.

Maar, sjympies tog, sover ek weet,

wou niks ooit help vir haar gevreet.

Tog loer sy na die spieël se kant:

“Wie is die mooiste in die land?”

Toe breek die spieël in sewe stukkies

en gee die vroumens sewe snikkies.

En alles word toe dubbel goor,

die dag toe sy haar werk verloor . . . .

Nou was die lewe glad geen grap.

Sy moes in vullisdromme krap,

Met sewe trane oor haar wange,

bereik sy Tafelberg se hange.

Daar tussen slop en rommelry

was waar die Sewe Bergies bly.

Sewe Bergies, erg besope;

veertien oë, bloedbelope.

En skaars sou sy na hulle loer,

toe skree die spul:”DJOU PA SE POER!!”

o spieëltjie, spieëltjie aan die wand.

Sy was die mooiste in die land . . . . .

En hier sou sy – ja, glo vir my –

vir sewe jaar gelukkig bly.

 

Phillip de Vos