Daar loop die maan deur Izak du Plessis

Daar loop die maan, die wandelaar
wat mantel swaai, die fiedelaar
wat deuntjies draai tussen sterre
en planete. Hy ken woorde
en woordinne, hy ken die taal

van elke watwou wiggelaar
wat witoog na die hemel staar
en uitroep sonder sinne:
Daar loop die maan!

Skryf neer jou woorde, rymelaar,
wat wydoog na die heelal staar,
swaai jou mantel na die sterre
en kyk, kyk daar tussen gode,
daar loop die maan.
© Izak du Plessis
Windpomp volmaan naby Loxton in die Karoo
Foto krediet: Bertus Hanekom 08 April 2020 in die FB-groep Coast and Karoo

By Leipoldt se graf

Die mooi  foto van die hek by die ingang na C Louis Leipoldt se graf, het vir maande lank in ‘n lêer op my rekenaar se hardeskyf gelê en wag vir ‘n gediggie om daarby te pas.

Toe, onverwags, duik die gediggie op in ‘n ou vergeelde digbundeltjie, ”Uit ons digkuns”, saamgestel deur T J Buning. Die eerste druk was in 1935.

Die foto het ek eendag op FB gesien en onmiddellik daarvan gehou. So baie daarvan gehou dat ek dit afgelaai en gebêre het sonder om die eienaar van die foto se naam daarby te plaas. Of dalk was daar nie ‘n naam by nie?

Miskien sal die eienaar van die foto eendag die foto raaksien en dit as syne eien.

Entrance to the grave of C Louis Leipoldt

By Leipoldt se graf

Leipoldt, jou blomme

Bloei in die pas

Waar jy die liefste

Oktobermaand was.

Eensame lewe,

Eensame dood.

Rustelose, rus

In jou wêreld se skoot.

I D Du Plessis

Liewe Maan

Ek “leen” hierdie pos by ‘n vriendin.

“‘n Vrou in haar goue jare, wat elke dag onverskrokke tegemoet gaan; wat graag vir jonger mense wil wys hoeveel pret mens kan hê as jy grys en wys is en wat daarvan droom om Senior Burgers, in Senior Tieners te verander. ”

Sy het soos ‘n verfrissende briesie oor die internet na my toe aangewaai gekom. Gaan kuier gerus hier by haar op haar blog . . . .

      1. Ek leen die skildery van die maan en ek leen die woorde van die ou, halfvergete Afrikaans FAK liedjie “Liewe Maan”.
        Ek leen dit omdat dit vir my mooi is.
        Ek leen dit omdat Afrikaans vir my mooi is.
        Ek leen dit omdat ek vanaand so voel . . .soos die woorde van hierdie liedjie . ..

        Die skildery is gedoen deur Susan Kemp

    1. Susan se volmaan

      Volmaan

      Liewe maan, jy seil so langsaam deur die awendwolke heen.
      Jy’s so kalm en ook so rustig; kon ek daardie rus maar leen.
      Treurig staar ek in die verte na jou stille eensaam baan.
      O, hoe wreed is tog die noodlot–nooit sal ek na jou kan gaan.

      Liewe maan, ek wil my smarte aan jou luist’rend oor vertel,
      wie dit is wat steeds my harte met ‘n teer herinn’ring kwel.
      My geheim is by jou veilig; sien dus maar my trane aan.
      My verlange is my heilig, maar ek weet jy sal verstaan.