Kring

Lieflike liefde

Oneindig lief

en as die more breek en babelas is
met winde in die kies
het ek jou lieflik lief

as die middag herfsig uitgevat
bruin skoenlappers oor die wolke gooi
het ek jou liederlik lief

as die skemer skielik hartseer
en mistig om die wimpers raak
het ek jou singend lief

as die vroenag nederig
kuis langs my venster kniel
het ek jou egbrekig lief

as die ure later uitgerus
versigtig my drome een-een dief
wag ek afgetakeld op die more
het ek jou oneindig lief

Annette Snyman